Local sportNews

Boodskappers met vere

Een van ons eerste verwysings na ’n boodskapper-duif kry ons in die Bybel, waar Noag ’n duif vrygelaat het om land te soek. Die duif het teruggekeer na die ark met ’n vars olyftakkie in sy bek. Die boodskap was duidelik, die waters het begin sak, en droë grond was sigbaar.

Boodskapper-duiwe is al so vroeg as 1350 v C gebruik in antieke Egipte. Duiwe is sedert 1150 na C in Baghdad gebruik, en teen 1167 na C was daar ’n gereelde boodskapdiens tussen Baghdad en Sirië. Ook in die moderne tye is duiwe gebruik om boodskappe onopsigtelik te stuur.

Die legende lui dat Lord Rothchild, wat stigterslid van die Bank van Engeland was, gereël het met ’n offisier in Lord Wellington se weermag, om die uitslag van die Slag van Waterloo in 1815 per duif aan te stuur.

Hy was die eerste persoon in Engeland wat geweet het Wellington het Napoleon verslaan, maar sonder om iets te sê, het hy al sy Britse-ponde op die aandelebeurs verkoop.

Paniek het gevolg! Almal het aangeneem Napoleon het gewen. Die mark het geval, en toe die pond op sy laagste punt was, het Rothchild alles opgekoop, en by die tyd wat die ware toedrag van sake bekend geword het, was hy een van die rykste mense in Engeland.

Die eerste aangetekende duiwe wedvlug, die “Cannonball Run”, is in 1818 in Brussels gehou, en teen 1860 het Paul Reuter, van Reuters News-faam, nuus tussen Brussels en Aachen karwy met ’n vloot van 45 duiwe. Duiwe is op groot skaal tydens die twee Wêreld Oorloë gebruik, en 32 duiwe het medaljes verwerf in die Tweede Wêreld Oorlog.

Warmbad-duiweklub bestaan uit nege aktiewe lede, waarvan twee juniors is.

Hulle is ook tans een van die sterkste klubs in die Sentraal-Limpopo Duiwe Unie, en het vyf lede onder die toptien van die unie, wat uit nege klubs bestaan.

Hul duiwe het al sover as 900 km gevlieg. Dit is ’n baie tegniese proses om duiwe voor te berei vir ’n wedvlug. Klublede bring hul duiwe na die klubhuis, elke duif het ’n elektroniese voetring, wat geskandeer word. Hulle word in hokke gepak, en elke hok kan gemaklik 35 duiwe huisves.

Duiwe word dan per vragmotor afgevoer na die wegspringpunt. Saterdagoggend word die sowat 500 duiwe van Warmbad-klub saam met sowat 8 000 ander duiwe vrygelaat op ’n bepaalde plek, waarvan die afstand bepaal is, en hulle vlieg dan reguit huis toe.

By hul basis word die duiwe geskandeer as hy in sy slaaphok ingaan, en dit bepaal die afstand, en spoed wat hy gevlieg het. Die wenduif is die een wat in die kortste tyd, die voorgeskrewe afstand aflê.

Paul Bester (voorsitter) of Frank Ferreira (sekretaris) kan gekontak word vir enige navrae by tel. 071 388 5412, of tel. 082 417 7011.

*Daar het 460-duiwe van die Warmbad Duiweklub aan die wedvlug vanaf Trompsburg op Saterdag, 20 Julie deelgeneem. In die jaar oud afdeling was Frank Ferreira se duif eerste tuis, Arrie en Lynette van der Merwe se duif in die tweede plek en ’n ander duif uit Ferreira se hokke in die derde plek. Paul Bester se duif het die ope-afdeling gewen.

Die volgende wedvlug is vanaf Springfontein op Saterdag 27 Julie.

Related Articles

Back to top button