Local sportNewsSport

Boorling van Vlakte maak haar merk

As jou Curriculum Vitae (CV) organisasies en spanne soos Supersport United, Bidvest Wits en Krieket Suid-Afrika (KSA) insluit, dan is dit duidelik dat jy heel bo-aan die leer staan in Suid-Afrikaanse sport.

Neline Hoffman-Kellerman (40) is onlangs gekies om die Protea-vroue-krieketspan se amptelike fisioterapeut te wees vir hul opkomende toer na Indië.

Neline is die dogter van Johan (Hoffies) en Celia Hoffman van die plaas Grasbult in die Radium-omgewing. As oud-leerder van Laerskool Warmbad, het sy al van vroeg af begin hokkie speel, en het later selfs vir Noord-Gauteng o.16 en o.18 gespeel, en ook vir Vrystaat se o.21-span uitgedraf.

Neline Hoffman-Kellerman (inlas) besig met een van haar pasiënte. Foto: Verskaf.

Sy het van 2003-2005 vir die Vrystaat senior span gespeel terwyl sy aan die Universiteit van die Vrystaat (Kovsies) haar studies voltooi het. Sy het in 2006 die graad BSc (Fisio) behaal. Hoffman-

Kellerman is in 2008 aangestel as assistentspan-fisioterapeut van Supersport United-sokkerklub. In 2013 is sy deur Northerns Cricket Union in dieselfde pos vir die Momentum Titans-krieketspan aangestel en in 2013 het sy as span-fisioterapeut na Bidvest Wits-sokkerklub se spelers omgesien.

Sy en haar man Christiaan, het in 2021 na Mbombela verhuis, waar sy die span-fisioterapeut van die Mpumalanga Rhinos-krieketspan was.

Haar betrokkenheid en voorliefde vir krieket het daarna gegroei, en dit was vir haar ’n groot verrassing en ’n eer toe sy verneem het dat sy op KSA se kortlys is, vir die pos as fisioterapeut vir die Protea-vrouekrieketspan.

Toe sy die nuus ontvang dat sy die pos gekry het, was sy in ekstase. Dit het onwerklik gevoel, sy is veral trots op die feit dat hierdie eer haar in haar 40ste lewensjaar te beurt geval het.

Hoffman-Kellerman vertrek op Saterdag 8 Junie saam met die vroue Protea-span na Indië waar die span drie een-dag-internasionale wedstryde gaan speel. Daar is ook ’n vyf dag toets geskeduleer en drie T-20-wedstryde. Die Indië-toer begin in Bangaluru en eindig in Chennai, die Proteas se eerste wedstryd is op Sondag, 16 Junie teen Indië in die M Chinnaswamy Stadion in Bangaluru.

Ter voorbereiding vir hierdie toer het Hoffman-Kellerman intense navorsing gedoen oor die effek wat hoë humiditeit op krampe en sportbeserings het, asook die effek van ‘Delhi Belly’ wat in die verlede al menige sportspanne gekelder het. Dit is ’n maagaandoening wat besoekers aan die land dikwels opdoen. Kenners reken dat dit die verandering van spyse is wat die nekslag gee.

Die Indiërs is bekend vir ryk disse en baie speserye.

Sy vertel spottendergewys Christiaan sien nogal daarna uit om ’n tuisbly-pa vir hul dogter Lenchen (9) te wees.

As deel van haar verbintenis met KSA gaan sy in September en Oktober saam met die Protea-vrouespan die T-20 Wêreldbeker aanpak, wat in Bangladesh sal plaasvind.

Sy het op die ‘Vlakte’ grootgeword, en haar hart sal altyd deel wees van die gemeenskap van Bela-Bela. Sy voeg by dat sy nooit die pos sou kon aanvaar het as dit nie vir die ondersteuning van haar familie en vriende was nie.

Related Articles

 
Back to top button