Editor's choiceLocal sportNews

Sakelui meet kragte op die gholfbaan

"Ons wil die sakelui se hande versterk en ’n gunstige omgewing vir sakeondernemings skep."

Sakebedrywighede en spanning is vir ’n paar uur lank opsy geskuif en die sakelui van Modimolle en buurdorpe kon hulself terdeë geniet op die Koro Creek-gholfbaan tydens die Waterberg Sakekamer se jaarlikse gholfdag wat op Vrydag, 10 Mei gehou is.

“Dit was ’n baie suksesvolle dag en ons kry soveel goeie terugvoer van beide die spelers en die borge af,” het Barlisa Nel, die sakekamer se sekretaresse gesê.

Die doel van die gholfdag is om sakelui die geleentheid te gee om mekaar beter te leer ken, asook om fondse in te samel wat aangewend word om die sakelui se hande te versterk en ’n gunstige omgewing vir sakeondernemings te skep.

Chris Barnard, Hans Visser, Karel Toet, Marius Broodryk en Martiens Joubert tydens die Waterberg Sakekamer se gholfdag.
Sonja Beukes, ondervoorsitter van die Waterberg Sakekamer, saam met die wenspan. Hulle is Sonja van Dijkhorst, Des Steadman, Revonne Oberholzer en Stef van Freden.

Die sakekamer is betrokke by projekte in die gemeenskap om die omgewing op te knap en wil fondse byderhand hou indien hulle regskostes moet aangaan. Die sakekamer was onder andere in 2018 by regsaksie betrokke om te keer dat Eskom Modimolle se krag afsny weens onbetaalde skuld.

Die algehele wenners van die dag was ’n vrouespan wat inwoners van die Koro Creek-gholflandgoed is, Sonja van Dijkhorst, Des Steadman, Stef van Freden en Revonne Oberholzer. Daar is ook pryse toegeken aan die speler wat die verste hou en die hou die naaste aan die pen gespeel het.

Die sakekamer het groot dank uitgespreek teenoor al die borge wat hulle gedurende die dag ondersteun het en die spelers wat dit saam met hulle kom geniet het.

Related Articles

Back to top button