Local sport

Naelskraapse wen vir Kwaggas

Die Kwaggas het verlede Vrydagaand (10 Mei) in ’n wedstryd wat van meet af wipplank gery het, naelskraap teen die Nylstroom rugbyklub se span geseëvier. Die eindtelling was 21-19 in die Kwaggas se guns.

‘n Feestelike atmosfeer het geheers op Hoërskool Warmbad se terrein en die pawiljoene was gepak met ondersteuners van beide spanne. Die lang verwagte ‘local derby’ het om 20:00 afgeskop en na 18-minute kon Nylstroom daarin slaag om die eerste punte aan te teken met ’n strafskop om die telling 3-0 te maak. Tydens die 23ste minuut drukVincent van Niekerk die Kwaggas se eerste drie. In ’n klipharde wipplank stryd was die telling halftyd 8-5 in Nylstroom se guns.

Met verbete spel het die twee spanne als ingesit om die telling in die tweede helfte op te stoot. Die Kwaggas het daarin geslaag om in die doodsnikke van die wedstryd ’n strafskop deur die pale te sit voor die eindfluitjie geblaas het. Sien video onder.

Jannie Venter, afrigter van die Nylstroom-span het gekla dat die skeidsregter talle swak beslissings gemaak het maar het bygevoeg: “Alle eer kom Warmbad (Die Kwaggas) toe”.

Die afrigter van die Kwaggas, Chris Goosen het gesê dat die wedstryd tussen hierdie twee spanne altyd ’n stryd is en die hulpafrigter, William Nel, het bygevoeg dat elke speler hulle bloed, sweet en trane vir die wedstryd gegee het. Hy sê dat die Kwagga-span nog jonk is en dat hul met tyd meer vaardighede en bestendigheid sal aanleer.

Die Kwagga Rugbyklub se volgende wedstryd is teen die span van Loskop op Vrydag, 24 Mei, op Hoërskool Warmbad se veld. Nylstroom Rugbyklub se volgende wedstryd is tuis, op Modimolle teen Mogol Rugbyklub, ook op 24 Mei.

  • Wees deel van die Kwaggas. Oefentye: Maandae en Woensdae vanaf 18:00 by Hoërskool Warmbad se A-veld. Vir meer inligting bel die afrigters, Chris Goosen by tel. 083 236 4338 of William Nel by tel. 072 212 7323.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button