Local sportNews

Moenie program oor Vaalwater misloop nie

Die splinternuwe, helderblou tennisbane roep dat jy jou raket bring om tennis te kom speel. Daar is geen teken meer van die vaal, toegegroeide ou bane nie.

Tydens die afgelope feesnaweek by die Boeresaal in Vaalwater, is die opgeknapte tennisbane aan die gemeenskap bekend gestel. Die bane het aandag gekry nadat die Vaalwater Sakekamer uitgereik het na Lottoland se ‘Help ’n Dorp-program’ en R386 000 ontvang het om die bane mee op te knap. Die dorp het min sportgeriewe beskikbaar vir die gemeenskap en hierdie projek hoop om dit te verander. Die bane is oorhandig aan die bestuur van die Boeresaal en die St. John’s at 24 Rivers-gemeente.

Voor die tennisbane opgeknap is.

Daar is nou vier tennisbane, twee netbalbane en die Boeresaal spog ook nou met twee splinternuwe jukskeibane met die nuwe jukskeiklub wat volgens die organiseerder Ans Malan, baie belangstelling lok.

Lottoland het die bekendstelling van die baan bygewoon en saai op Woensdag 22 Mei ’n halfuur lange uittreksel op DSTV kanaal 144 uit oor die afgelope ses weke se harde werk. Die sakekamer sal die program by die Boeresaal op groot skerm uitsaai sodat diegene wat nie DSTV het nie, ook daarna kan kyk.

Die feesnaweek het baie inwoners en besoekers na die Boeresaal gelok met optredes van die sangers Leah, wat die Lottoland program aanbied en Matthys Roets sowel as stalletjies wat interessanthede en lekkernye te koop aangebied het.

Diegene wat wil aansluit by die jukskeiklub kan vir Ans Malan skakel by tel. 072 437 8147. Inwoners wat betrokke wil raak by soortgelyke gemeenskapsprojekte kan aansluit by die Vaalwater Sakekamer.

Related Articles

Back to top button