Local sportNewsSchools

Danspassies en sang bring beker huis toe

Die skare mense op die pawiljoene kon die ritmiese klanke van die popgroep Abba nie lank weerstaan nie. Die groep dirigente, kompleet in styfpassende, Abba-geïnspireerde ‘katpakke’, het dit na ’n trefferkonsert so reg uit die 1970’s laat voel.

Hoërskool Nylstroom se dirigente het vanjaar, ná ’n jarelange beker-droogte, skoonskip gemaak by die Bosveld-interhoër op Saterdag 24 Februarie in Mookgophong. Hulle het weggestap met die dirigentebeker, sangbeker én die opkomsbeker. Dit is die eerste keer in 31 jaar wat die skool die sangbeker wen.

Die Pos het gaan aanklop om te hoor wat agter die skerms gebeur het.

“Die beplanning vir vanjaar se interhoër het direk ná verlede jaar se byeenkoms begin. Ons was vasberade om ons merk te maak,” het Wandi Botes, choreograaf en afrigter, gesê.

Die Nylies het stywe kompetisie gehad, want Hoërskool Frikkie Meyer van Thabazimbi wen jare lank reeds elke keer hierdie afdeling en was weereens kookwater.

Die Nylies het hul span vir die veldslag vroeg bymekaar getrek: die dirigente is reeds in Oktober die vorige jaar verkies en ’n span van tien personeellede het by hulle aangesluit. “’n Mens kan baie goeie planne hê, maar as jy nie genoeg hande het nie, gaan ’n mens niks uitrig nie,” het Botes gesê.

Die Nylies se dirigente. Voor is Lorinda Broodryk, Lene Groenewald, Kgwerano Matabane, Dominique Erasmus en Prudence Makwela. Agter is Mahlatse Mogotsi, Phenyo Tshisvhe, Yolandi van Heerden, Martiens Joubert, Wiehan Fouché, Ruan Campher en Machiel van Biljon. Foto: Jean-Marie Heyns

Bloedsweet en baie ure se werk het gevolg. “As ek eendag terugdink aan hierdie interbyeenkoms, dan sal ek ons uithouvermoë onthou,” vertel Martiens Joubert, hoofdirigent en hoofseun van die Nylies. “Ons het baie ure lank geoefen, maar ook groot pret gehad.”

Die groep het voor skool ’n uur lank geoefen en dan weer twee ure in die middae. Van rus oor naweke was daar nie sprake nie, want dit was ernstige oefentyd. Hul harde werk het gewys en op die groot dag was hul ingewikkelde danspassies foutloos.

Dit was egter nie net die dirigente wat die knoop deurgehaak het nie. “Die sangspan was ongelooflik,” sê Yolandi van Heerden, hoofdirigent. “Wanneer ons moeg geword het, het hulle ons aangepor. Wanneer hulle moeg geword het, het hulle mekaar moed ingepraat en deurgedruk.” Die skole se sangspanne het mekaar uur ná uur op ’n bloedige warm dag, in die son, die stryd aangesê.

Die dirigente se kostuums was treffend.

“Nella van Wyk, die gasvryheidsonderwyser, het ingespring om die klere te ontwerp en te maak. Nie een stel klere is dieselfde nie, dit is pasgemaak vir elke dirigent.” Die klere is gemaak uit blink wit en pers lycra. Die meisies het wit skoene met hoë hakke daarby gedra. “Daar was baie seer voete aan die einde van die dag!” het Botes gesê.

Beurtkrag het vir konsternasie gesorg met die maak van die kostuums.

“Van die nate van die kostuums was die dag van die optrede nog nie gestryk nie. Ons het vroeg weggespring om reg te wees en het reeds 03:00 die dirigente se grimering gedoen sodat beurtkrag ons nie pootjie nie.”

Diegene wat die fliek “Mamma Mia” gesien het, het lekker gelag vir die seunsdirigente se dans met hul paddavoete en swembroeke – dit ná ’n blitsige klere ruil wat ’n Formule 1-jaer se ondersteuningspan in die kuipe sou beïndruk.

Die uitdaging, vertel Botes, is om nuut te dink en nie jaar ná jaar dieselfde danse, klere en liedjies op te dis nie.

“Ons het vanjaar ’n sak vol nuwe idees gehad en het nie kans gekry om almal te gebruik nie. Ons hou hulle vir volgende jaar. In plaas van beffies het ons sangers gekleurde moue gehad en ons het balle en vlieëplakke in die plek van plakkate gebruik. Gedurende hul pouse, het die sangers ’n groot banier op hul sitplekke uitgerol sodat die pawiljoen nie leeg lyk nie.”

Die span onderwysers was Finachlie Diederiks, Wandi Botes, Mickayla Trollip, Christine le Roux, Pieter Theron, Nella van Wyk, Bianca Nortjé, Sammy Prinsloo, Prudence Sithole en Lu-mari Theron.

Die dirigente was Martiens Joubert, Yolandi van Heerden, Lorinda Broodryk, Dominique Erasmus, Mahlatse Mogotsi, Prudence Makwela, Lene Groenewald, Wiehan Fouché, Machiel van Biljon, Ruan Campher, Kgwerano Matabane en Phenyo Tshisvhe. Leane van Deventer en Gerdu de Lange was reserwes.

Related Articles

Back to top button