Local sport

Mans en vroue welkom by ringbalklub

Nie lus vir stilsit laatmiddag nie? Kom skakel in by die Kranskop Ringbalklub wat op Maandae en Woensdaemiddae, die bane by Laerskool Nylstroom aan die brand speel.

Ringbal is soortgelyk aan netbal, maar word deur beide mans en vroue gespeel. Die klub verwelkom spelers van enige ouderdom. Laerskoolspelers wat nie die wintersporte se spanne gehaal het nie, is welkom om te kom inskakel en hul vaardighede te slyp.

Ringbal is eg Suid-Afrikaans en het sy ontstaan reeds in 1907 gehad nadat dit uit basketbal ontwikkel is. Daar is nege spelers in ’n span wat bestaan uit ’n lyndoel en twee kantdoele wat in die eerste blok speel. In die middelste blok van die baan word die spelers wat die afgooi doen, senter, oopvlerk en toevlerk genoem. In die derde blok is daar ’n lyn- en twee kantverdedigers.

Spelers bly in hul onderskeie blokke. Die ring waardeur die bal gegooi word is groter as ’n netbalring. Dit is ’n vinnige en opwindende spel.

Tydens Die Pos se besoek was sowat 40 spelers van elke ouderdom aan die oefen. Die klub se eerste wedstryde is om die draai. Die klub se Buffels-span neem deel aan die Super 12-reeks wat in Maart afskop teen spanne met name soos Pumas, Hawks, Northern Bulls, Tornados, Thundercats, Gauteng Eagles en nog meer.

“In Limpopo is daar twee distrikte, naamlik die Mopani- en Capricorn-distrikte. Ander klubs in die provinsie wat meeding is die Mogolklub (Lephalale), Jakarandaklub (Polokwane) en Tzaneen- en Phalaborwaklubs. Kranskopklub val in die Capricorn-distrik,” het Rene Pallas van die klub gesê. Spelers van buurdorpe skakel ook by dié klub wat by RSA Ringball geaffilieer is, in.

“Ons is baie dankbaar dat ons Laerskool Nylstroom se bane kan gebruik,” het Pallas gesê.

Oefening vind plaas op Maandae en Woensdae van 17:30 tot 19:30 en enige spelers van sewe tot tagtig jaar oud is welkom.

Vir meer inligting, skakel Mariza Toet by tel. 082 873 7004 of René Pallas by tel. 076 075 9513 of tel. 060 577 3053.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button