Local sport

Karatekas wil oorsee gaan naam maak

Die Waterberg Karate Academy in Bela-Bela, het rede om breë bors rond te loop. Nie minder as 17 van hul klublede is gekies om Suid-Afrika op internasionale vlak te verteenwoordig. Voorwaar ’n uitsonderlike prestasie.

Die 27ste JSKA Shotokan International Development Tour and Tournament vind van Vrydag, 5 April tot Sondag, 7 April in Swakopmund, Namibië, plaas. Die karatekas sal egter reeds op Donderdag vertrek om gereed te wees vir die groot kompetisie.

Dié sportsoort kry egter geen finansiële ondersteuning van die departement sport en toerisme nie. Die ouers en die klub moet self die koste dra wat nogal ’n aansienlike bedrag is vir die groot groep.

Monique von Stade, bestuurder van die klub sê dat elke deelnemer sowat R10 000 moet bymekaar maak. Dit sluit hul reis- en verblyfskostes in en sal ook voorsiening maak vir maaltye en die inskrywingsgeld. Die karatekas moet ook vir hul SA-kleure “kit” self opdok.

Sy het aan Die Pos gesê dat hul geen steen onaangeroer laat om die fondse bymekaar te maak nie en dat die Waterberg Karate Academy met trots die groen-en-goud gaan verteenwoordig op die internasionale kompetisie.

Verskeie ander Afrika-lande stuur ook spanne na die toernooi.

Von Stade het voorts gesê dat hulle graag wil sien dat elke gekose karateka die toernooi kan bywoon.

“Dit is nie lekker as jou mede-spanmaat moet agterbly as gevolg van finansies nie.”

Dit is een van die redes waarom die bystandsfonds (NPC) gestig is. Die doel is om elkeen ’n gelyke geleentheid te bied en die jongmense te leer dat harde werk die sleutel tot sukses is.

Dié klub se spanlede het by elke moontlike funksie pannekoek gebak, pakkies gepak by die groot kettingwinkels en in die feesseisoen ’n geskenke-toedraai-stasie beman in die Checkers-sentrum. Hul het al blik geskud en is bereid om sleurtake te verrig in ruil vir ’n donasie tot hul bystandsfonds.

Vir diegene wat die Waterberg Karate Academy wil ondersteun en die jong karatekas se drome vlerke gee, kan donasies op die BackaBuddy-webwerf maak.

Vir verdere navrae of donasies kan Monique Von Stade by tel. 078 302 2515 gekontak word.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button