Local sport

Atlete kookwater by 60ste interhoër

Die sestigste Bosveld-interhoër was vuurwarm – nie net in die bloedige warm son nie, maar ook die atlete en sangers!

Atlete van die sewe deelnemende skole, Hoërskool Hans Strijdom (Mookgophong), Hoërskool Nylstroom (Modimolle), Hoërskool Warmbad (Bela-Bela), Hoërskool Ben Viljoen (Groblersdal), Hoërskool Piet Potgieter (Mokopane), Hoërskool Ellisras (Lephalale) en Hoërskool Frikkie Meyer (Thabazimbi) het sake op Saterdag 24 Februarie op Hans Strijdom se tartanbane uitgespook. Die goed georganiseerde byeenkoms het seepglad verloop.

Natuurlik moes die skole se gelukbringers (mascots) ook aantree vir ’n 100 m resies… groot koppe en lomp voete ten spyt!
Die o.19-seuns kap dit uit wenstreep toe.

Die spanne se dirigente-opkomste was uit die boeke uit, met ingewikkelde danspassies wat die toeskouers hulle hard laat toejuig het.

Hoërskool Ellisras het die byeenkoms vir die vyfde jaar in ’n ry gewen met 717 punte. Frikkie Meyer was in die tweede plek (683), Hans Strijdom derde (625), Nylstroom vierde (609), Ben Viljoen vyfde (607), Piet Potgieter sesde (416) en Warmbad (294). Warmbad se atlete het hul beste gegee, hoewel hulle teen veel groter skole moes meeding. Hans Strijdom het, soos verlede jaar, die prestasiebeker huis toe geneem. Dié beker neem die leerlingtal teenoor die prestasies behaal, in ag.

Die o.19-meisiesatlete het hul 800 m teen ’n vinnige pas aangepak.
Jaco van der Westhuyzen van Hoërskool Ben Viljoen het meer as een rekord herskryf.

Hoërskool Nylstroom het breë bors weggestap nie net met die sangbeker nie, maar ook met die dirigentebeker en opkomsbeker. Hul tema “Mamma Mia” met die musiek (en kleredrag!) van Abba het die toeskouers se voete laat jeuk. Dit is die eerste keer in 31 jaar wat die skool met die sangbeker kan spog. Die opkomsbeker is vanjaar vir die eerste keer bekendgestel.

Breër kan hulle nie glimlag nie. Hoërskool Nylstroom se dirigente het die sangbeker, dirigentebeker en opkomsbeker gewen. Foto: Jean-Marie Heyns Fotografie
Hoërskool Warmbad se dirigente het die oog gevang in hul rooi klere. Foto: Jean-Marie Heyns Fotografie

Ten spyte van die snikhete dag, het die atlete talle rekords laat spat en ook persoonlike beste prestasies aangeteken. Die Van der Westhuyzen-gesin van Hoërskool Ben Viljoen het die skare behoorlik laat regop sit. Emma van der Westhuyzen breek die rekord in die 100 m vir meisies o.14 (12,11 s) en in 200 m meisies o.14 (25,36 s), Jaco van der Westhuyzen verpletter die rekord vir 100 m vir seuns o.16 (10,59 s) asook die 200 m (21,60 s) en sus Ellene van der Westhuyzen stel ’n nuwe rekord op in die 200 m vir meisies o.17 (25,31 s).

Frikkie Meyer se dirigente, wat die vorige vyf jaar die dirigentebeker gewen het, was soos gewoonlik vuurwarm.

Mieke Mienie van Nylstroom herskryf die rekord in die 100 m vir meisies o.17 (12.11 s), Edunette Kriel van Ben Viljoen verbeter die tyd in die 90m-hekkies (12,90s), Mikayla Bester van Ellisras 100m hekkies vir dogters o.16 (14.16s), Teneko Nkuna van Ellisras in die 110 m-hekkies, seuns o.17 (13,64 s), Pule Sebolao van Warmbad in die 110 m-hekkies vir seuns o.19 (13,49 s), asook in die 400 m hekkies (0:54:10 s). Ben Viljoen se o.14-seuns-aflosspan verbeter die rekord met ’n tyd van 0:48:01 s. Die seuns o.17-aflosse was witwarm met beide die spanne van Hans Strijdom (0:43:71 s) én Ellisras ((0:43:87s) wat die rekord breek.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button