Local sport

Hansies berei voor vir 2024-Interhoër

Inwoners van die Bosveld-streek sit al slaggereed vir die jaarlikse skouspel, die Bosveld Interhoër, wat vanjaar op Saterdag 24 Februarie deur Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong aangebied word. Hierdie jaar is ook ’n spesiale byeenkoms aangesien dit die 60ste verjaardag van die Bosveld-bond is.

Die personeel, ouers, leerders, terreinbestuurder en die werkers is reeds van 2023 druk besig om die terrein en die fasiliteite op te knap vir die nagenoeg 6 000 besoekers wat verwag word.

Volgens Rinus de Jager, skoolhoof van Hoërskool Hans Strijdom, is die pawiljoene reeds opgeknap en vergroot om ruim sitplek te bied vir die besoekers. Hy sê dat hul bykans gereed is met al die opknappingsprojekte wat aangepak is.

“Ons sien baie daarna uit om ons buurskole hier te ontvang en dit beloof om weer puik atletiek op te lewer.”

Aangesien die skool vanjaar so laat begin het, is daar nie so baie tyd soos in die verlede om alles in plek te kry nie, maar met die borge en bystand van die hele dorp en omgewing maak dit ons taak makliker om ons doelwit te bereik.

“Ons maak gereed vir 1 100-atlete, 1 400-sangers van die sewe deelnemende skole, en tussen 2 500 en 3 000 toeskouers. Ons het alreeds die verfwerk gedoen en ons is tans besig met die opknapping van die baan,” het Lebu van Heerden, adjunkhoof van sport gesê.

Die skole wat gaan meeding is, Hoërskool Frikkie Meyer van Thabazimbi, Hoërskool Ellisras van Lephalale, Hoërskool Warmbad van Bela-Bela, Hoërskool Nylstroom van Modimolle, Hoërskool Piet Potgieter van Mokopane, Hoërskool Ben Viljoen van Groblersdal en Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong.

Soos oudergewoonte sal die byeenkoms weer afskop met ’n skouspel-optog van die atlete wat elke skool se vaandel om die veld dra en dit word gevolg deur die groter skouspel wanneer die verskeie skole se dirigente opdaag. Die byeenkoms sal volgens die reëls van Atletiek Suid-Afrika (ASA), wat aangepas is vir die Bosveldbond, aangebied word.

“Die Hansies staan bekend as ‘Die Leeus van die Noorde’ en dit is wat die skole se atlete, sangers en toeskouers te wagte kan wees,” het Van Heerden gesê.

Lesers wat die byeenkoms wil bywoon kan die skool skakel by tel. (014) 743 2151 of stuur ’n e-pos na admin@hansies.co.za vir inligting. Die Pos sal tot en met die groot dag ons lesers op hoogte van sake hou.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button