Local sport

Meestersatlete bring nóg medaljes huis toe

Die Afrika-meestersatletiekkampioenskap het van 16-18 November by die Pilditch-stadion in Pretoria plaasgevind.

Atlete van 16 lande van regoor die wêreld het deelgeneem en plaaslike atlete van die Kokanje-aftreeoord in Modimolle het gewys dat hulle glad nie terugstaan vir hul eweknieë nie. Daar was 1 157-inskrywings vir dié gewilde kompetisie.

Meestersatletiek is vir atlete ouer as 35 jaar wat in verskeie items kan deelneem.

Babsie Grobler-Crafford, wat in die 75-79 jaar kategorie deelneem, het bronsmedaljes in werpskyf, spiesgooi en gewiggooi verwerf. Sy het vierde plekke behaal in die vyfkamp en hamergooi.

Bo is Ria Ludick se spesiale tekkies wat haar kleindogter vir haar geverf het.

Ria Ludick, wat in dieselfde ouderdomsgroep deelneem, het ’n goue medalje vir spiesgooi verwerf, silwer vir werpskyf, gewigstoot en vyfkamp en ’n brons vir hamergooi.

Miggie van der Walt, wat in die kategorie vir 70-75 jaar deelneem, het vierde plekke vir vyfkamp en spiesgooi behaal.

Tiaan Crafford, wat in die 75-79 jaar kategorie sou deelneem, moes ongelukkig aan die verspring onttrek weens ’n kuitbesering.

Volgens Ludick was dit ’n ervaring van ’n leeftyd.

“Op ons ouderdom is ons so gelukkig dat so ’n groot byeenkoms hier reg op ons voorstoep in Pretoria plaasvind. Nie almal het altyd die geld om oorsee te reis om deel te neem nie. Dit is soms hartseer dat die beste atlete nie by die byeenkomste kan uitkom nie. Aanstaande jaar se byeenkoms word in Swede gehou,” het sy gesê.

“Mense begin nou eers kennis neem van meestersatletiek omdat dit meer blootstelling in die media kry. Ons is ’n trotse span — al is ons van ’n derdewêreldse land, kon ons mooi kers vashou by die atlete van eerstewêreldse lande,” het sy gesê.

Ludick het só uitgesien na die groot okkasie, dat sy besluit het om vir haar spesiale tekkies te maak om aan die byeenkoms deel te neem. “Ek het dit nie verwag nie, maar my skoene was baie gewild. Atlete van Duitsland, Estonia en Kenia wou weet waar hulle dit kon koop — intussen was dit danksy ’n ouma se oulike kleinkind!” vertel sy laggend. Sy het ’n paar wit Tomy-tekkies gekoop en die voorpunte oopgesny. Een van die mans wat herstelwerk in die dorp doen, het vir haar die rante omgewerk en haar talentvolle kleindogter, Melisane Botha wat in Pretoria woon, het dit vir haar in die landsvlag se kleure geverf.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button