Local sport

Duiwe vlieg voor vir wenpryse

Om haar wedvlugduiwe vir kompetisies in te skryf verg harde werk en toewyding, maar vir Mianné Botes is hierdie sportsoort niks vreemd nie, want haar familie staan bankvas agter haar.

Mianné, ’n gr. 5-leerder aan Laerskool Eugène N. Marais in Mookgophong, het op Saterdag 11 November tydens die Sentrale Limpopo Duiwe-unie (S LIM) se prysuitdeling die South African National Pigeon Organisation (Sanpo) junior meriete-toekenning en goue medalje as beste junior in Suid-Afrika vir 2022 ontvang. Sy ontvang ook die wisseltrofeë vir haar jaaroud kampioen-duif, beste duif en beste junior vir 2022.

Sy het reeds in April die toekennings verdien, maar dit is nou aan haar oorhandig.

Sy spog ook met ’n eerste plek in die kampioenskap vir jaaroud-duiwe van Euphoria-Kranskop-duiweklub wat op 27 Julie 2022 vanaf Bloemfontein plaasgevind het. Sy het met ’n goeie tyd ook die eerste plek in die S-LIM Combine-kompetisie behaal. Haar wenduif was eerste van 476 duiwe wat aan die wedvlug deelgeneem het. “Dit is haar derde eerste plek vir die jaar en ons is baie trots op haar,” het haar ma, Michelle Botes, gesê.

Mianné is tans die jongste lid van die Euphoria Kranskop-duiweklub en 2022 was haar eerste jaar van deelname. Sy geniet die sport saam met haar pa, Piet Botes jnr., wat ook vir die klub vlieg.

Mianné se grootouma, Marie Fourie, was op haar dae ook ’n kampioen in dié sport. Michelle se pa, Eric Fourie, het baie jare duiwe gevlieg en toe hy oorlede is, het sy haar pa se beste broeipare gehou.

“Piet het sowat ’n jaar ná my pa se dood begin om met sy duiwe te vlieg. Hy self neem dus al ongeveer 10 jaar lank aan wedvlugte deel,” het sy vertel.

Mianné is dikwels saam met haar pa in die duiwehok en haar belangstelling in duiwe neem by die dag toe. “Dis vir my interessant en ek leer baie nuwe dinge. Ek hou baie van duiwe. My pa vlieg met die blou duiwe en ek met die bont duiwe. Ons maak ’n goeie span,” het Mianné gesê.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button