Local sport

Nylie-krieketspan kraai koning by liga

Altesame vier spanne van Laerskool Nylstroom het hul krieketseisoen as ligawenners afgesluit.

Die klein Nylies se o.10-, o.11-, tweedespan én eerstespan het hul ligas in die kategorie vir mediumgrootte skole gewen.

“Ek dink ons het so ’n bietjie geskiedenis gemaak. In my 32 jaar van skoolhou is dit die eerste keer dat ek hoor dat al die spanne van een skool die finale wen,” het ’n opgewonde skoolhoof, Roelf Vorster, gesê. “Ons is so dankbaar vir die mooi uitslae. Dit was ’n mooi sportjaar vir ons.”

Die o.11-span het op Vrydag 3 November teen Unicorn Preparatory School, ’n privaat skool in Tzaneen, in die finale ronde te staan gekom. Die Nylies het eerste gekolf en 127 lopies aangeteken. Hulle kon daarin slaag om Unicorn uit te boul voordat hulle die wentotaal van 128 kon bereik en het die wedstryd met 13 lopies gewen.

Die eerste krieketspan moes dit ook vroeër teen Unicorn uitspook en het met 31 lopies gewen. Die o.10- en tweedespanne het in die finaal teen die spanne van Laerskool Phalaborwa te staan gekom. Die tweedespan het met 26 lopies gewen en die manne van die o.10-span het koning gekraai met nege paaltjies.

Die afrigters vir die spanne was Retief Jacobs en Martin Kleinhans by die o.10’s, Handri van der Merwe by die o.11’s, Rynhardt Janse van Rensburg en Riaan Lourens by die tweedespan en Ruddi Kirstein en Roelf Vorster by die eerstespan.

Waar lê die geheim? Vorster sê hulle het vroeg reeds weggespring met hul krieketseisoen.

“Die o.10- en tweedespan was vanjaar ook by krieketafrigtingsweke. Teen die tyd dat die krieketseisoen aangebreek het, het ons reeds ons spanne gehad en oefenwedstryde gespeel. Die grondslag was reeds gelê.”

Vorster het gesê skole het maar sportjare wat goed verloop en ander jare wanneer dit minder goed verloop.

“Dit was ons beurt vir so ’n lekker en goeie seisoen!”

Laerskool Nylstroom se sportspanne was vanjaar kookwater. Die skool se eerste- en tweederugbyspanne het ook hul ligas gewen, asook die eerste seunstennisspan. Die eerste meisiestennisspan was derde.

Skole met minder as 399 leerders neem aan die liga vir klein skole deel, terwyl laerskole met 400 tot 699 leerders aan die liga vir mediumgrootte skole deelneem. Skole met meer as 700 leerders neem in die liga vir groot skole deel.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button