Local sport

Merke, gereed, parkrun!

Die gewilde 5 km-parkrun in Modimolle het sy vyfde verjaardag gevier.

Sedert die parkrun in 2018 vir die eerste keer op die Koro Creek-gholflandgoed aangebied is, het dit met rasse skrede toegeneem in gewildheid. Vir baie inwoners, fikses en minder fikses, is dit ’n weeklikse instelling om vroeg op Saterdagoggende aan te tree vir ’n vinnige staptog of drafsessie op die mooi uitgelêde sementpaadjies en ’n grondpaadjie wat deur die bosse kronkel.

Regoor die wêreld word parkruns weekliks gratis aangebied. Daar word elke keer boekgehou van die deelnemers se tye sodat hulle kan sien of hulle verbeter.

“Ek en my man wou baie graag ’n parkrun in die omgewing gehad het. Ons het in 2017 aansoek gedoen om een aan te bied,” vertel Annette van Dyk.

Agt maande later — nadat heelwat werk gedoen is — kon die eerste deelnemers wegspring. Die roete moes eers uitgelê en goedgekeur word en die vrywilligers moes leer hoe die deelnemers se tye aangeteken moet word. Die roete is gemeet, op die GPS-stelsel geplaas en parkrun-afstande- en roetebordjies is gemaak. Die eerste byeenkoms is deur Comrades-legende Bruce Fordyce en sy gesin bygewoon. Hy bestuur die parkrun in Suid-Afrika.

Parkrun is baie gewild onder oud en jonk met heelwat inwoners van die Kokanje-aftreeoord wat getrou deelneem. Volgens Van Dyk is die oudste deelnemer reeds 80 plus. Daar is ook parkrun-toeriste wat opdaag omdat hulle soveel moontlik parkruns regoor die land wil voltooi.

Daar is tans 2 200 mense by die Modimolle-parkrun geregistreer, hoewel heelwat minder elke Saterdag aantree.

“Die minste wat ons nog op ’n Saterdag was, was 19 deelnemers wat vasberade was om hul parkrun te voltooi ten spyte van gietende reën. Die enigste rede hoekom ’n parkrun afgestel mag word, is weens weerlig,” het Van Dyk gesê.

Op Saterdag 28 Oktober is die parkrun se vyfde verjaardag met eetgoed en ballone gevier. Natuurlik was die meeste van die deelnemers en vrywilligers in Springboktruie geklee.

“Ek is so dankbaar vir almal wat die afgelope vyf jaar gehelp het om hierdie ’n sukses te maak. Koro Creek-gholfbaan het ons nog nooit gevra om ’n parkrun af te stel omdat hulle iets anders aan het nie en Johan Koch, wat die gholfbaan se terrein bestuur, het met die opstel van die roete baie werk gedoen. Groot dank ook aan elke vrywilliger en die lede van die bekwame bestuurspan wat harde werk insit om die parkrun te laat geskied,” het Van Dyk gesê.

Die parkrun spring elke Saterdagoggend om 07:00 voor Koro Creek se klubhuis weg. Deelnemers kan vooraf op parkrun se webwerf registreer om hul strepieskode te ontvang. Die volledige uitslae word elke Saterdag per e-pos aan hulle gestuur. Die Modimolle-parkrun se Facebookblad plaas ook weekliks foto’s.

Vir meer inligting, skakel Van Dyk by tel. 072 129 7585.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button