Local sport

Sportster sprei vlerke Spanje toe

Daniel Verster (18) van Bela-Bela is baie opgewonde, want sy vlieg op Sondag 1 Oktober Spanje toe om daar te gaan hokkie speel.

Dié veelsydige sportster van Hoërskool Warmbad vertel sy het in Julie aan die Bokkieweektoernooi in Kroonstad deelgeneem.

“Ek het vir die Verre-Noordspan gespeel en is ná afloop van die toernooi vir die Afrikaner Volkseie Sport (AVS) o.19 Bokkieweekspan gekies.”

Sy het in gr. 1 vir die eerste keer kennis gemaak met die sportsoort en sedertdien haar vernuf begin wys. Sy is in gr. 4, 5 en 6 vir die Limpopospan gekies en verlede jaar en vanjaar het sy vir die Verre-Noordspan gespeel.

Altesame 10 unies se spanne kom tydens die Bokkieweek byeen om kragte te meet en ná afloop van al die uitspele en finaal word ’n Bokkkieweekspan gekies wat oorsee gaan deelneem, vertel sy.

Daniel Verster in aksie.

Dit is die eerste keer dat sy oorsee gaan reis en sy sien uit om die wêreld buite ons landsgrense te verken. Sy kan nie wag om die tegnieke van die spelers daar te leer nie. Die Bokkies sal teen vier spanne kragte meet en vir haar is spanwerk die lekkerste.

Daniel is ook ’n kranige swemmer. Sy vertel sy het onlangs ’n rekord in die swembad verbeter en dit is ook nie net op die sportveld waar sy presteer nie. Sy is onder die toptienakademiese presteerders.

Voor haar vertrek gaan sy egter eers vandeesweek haar skool se matriekafskeid in haar droomrok bywoon. Ná die Bokkieweek wag die eindeksamen.

Sy vertel sy gaan aanstaande jaar werk en deeltyds ondernemingsbestuur studeer. Sy sal graag alles wat sy op die hokkieveld geleer het wil terugploeg met afrigtingswerk.

Daniel sê dankie vir die gemeenskap wat haar gehelp het om geld in te samel vir haar oorsese reis.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button