Local sport

Boikie gereed vir langpad se trap

Boikie Monareng is gereed om sy fiets se speke te laat sing van die Kaap na die Noorde.

Dié keer sal dié vriendelike fietsryer en drawwer van Bela-Bela die Iron Man Strong Man-uitdaging van 1 923 km aanpak.

Boikie vertel hy en sy span van 30 fietsryers sal dou voor dag op Maandag 9 Oktober in Kaapstad by die Waterfront wegspring. Hulle sal vandaar die kilometers begin plat trap na Laingsburg, Beaufort-Wes, Hanover, Bloemfontein en Kroonstad.

Vandaar pak hulle die pad aan tot in Mogale City (Krugersdorp) voordat hulle Bela-Bela toe trap. Die lang trap is nog nie klaar nie en die volgende stop is Polokwane en vandaar na Makhado (Louis Trichardt). Boikie sê hulle hoop om op Woensdag 18 Oktober in Musina klaar te maak.

Hy is opgewonde oor hierdie groot uitdaging wat hy en sy mede-fietsryers in tien dae wil voltooi. Sy groot droom is om genoeg geld in te samel dat hy in Egipte kan gaan fietsry.

“Ek wil daar aan die Egypt Cycling Tour gaan deelneem en ’n ambassadeur vir ons land wees,” vertel hy met ’n breë glimlag.

Hy wil ook die Run Boikie Run Stigting vir geestesgesondheid begin sodat hy jong kinders kan motiveer. Hy droom daarvan om eendag kinders te kan help met beurse om verder te studeer.
Boykie is in Bela-Bela gebore en getoë. Hy vertel hy het as jong kind sowat 10 km skool toe en terug gestap. Later het hy besef hy kan die afstand hardloop.

In 1996 het hy weens sy gehoorprobleem sy skoolloopbaan by die Sonitas Skool vir Hardhorende leerders in Pretoria voortgesit. Daar het hy aan al die sportaktiwiteite deelgeneem en besef hy geniet dit om te swem, te hardloop en fiets te ry.

Boikie het in 2007 vir die eerste keer die Comrades-marathon voltooi en dit daarna nog agt keer gehardloop.

” Ek het nie vanjaar deelgeneem nie, want ek geniet nou die fietsry. Ek toets my geestesgesondheid en kyk elke keer hoe ek uitdagings kan hanteer.”

Dan vertel hy hoe dr. Victor Emslie en sy vrou, Bea, hom al die jare help en hoe dankbaar hy is.

“Hulle het my nog altyd gemotiveer.”

Boikie vra inwoners om hom te help met kos en slaapplek langs die roetes. ’n Donasie van R30 per km sal help om Boikie se droom vlerke te gee.

Donasies kan inbetaal word in Run Boikie Run, Capitec, rekeningnommer: 1503164762, takkode 470010. Hy kan ook gekontak word by tel. 076 181 2592.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button