Local sport

Uithalerstut skitter in sy Blou Bultrui

Om sy teenstaanders plat te duik, is vir hom lekker en om boonop te weet sy ondersteuners is langs die veld om hom aan te moedig, is die kersie op die koek.

JC Matthee, hoofseun van Laerskool Warmbad, speel vanjaar kookwaterrugby. Hy is onlangs gekies om gedurende die Oktober-skoolvakansie vir die Blou Bulle se o.13-ITP-span, ook bekend as die Blue Toro’s, uit te draf.

Dié loskopvoorspeler kan nie wag om die nommer een trui oor sy kop te trek en voor in die skrum te sak nie.

JC kuier by Die Pos saam met sy ma, Corné, wat sy grootste ondersteuner is. Sy neem hom vier keer per week Pretoria toe om by die Harlequins-rugbyklub te gaan oefen.

JC Matthee se rugbyloopbaan het vanjaar weer vlamgevat.

Hoewel hy reeds vanaf sesjarige ouderdom begin rugby speel het, moes hy die spel so twee jaar gelede vaarwel toeroep toe die Covid-19-pandemie almal tot ’n halt gebring het.

“My vriende het my vanjaar oorreed om weer my rugbystewels aan te trek. Ek het vir my skool se eerstespan uitgedraf en is toe gekies vir die Limpopo Blou Bullespan wat in Junie aan die Cravenweek in Pietermaritzburg gaan deelneem het.”

JC sê die rugbygogga het hom goed gebyt, want toe die seisoen eindig, het hy besluit om by die Harlequins-rugbyklub in Pretoria aan te sluit. Hier oefen hy nou saam met van die Blou Bulle se spelers teen wie hy in die Cravenweek gespeel het.

“Dit is ’n groot eer om vir die Blue Toro’s gekies te word. Die Inter Provincial Tournament (IPT) is soos die Cravenweek, maar hulle kies spanne uit die klubspelers. Ek het aan die proewe deelgeneem en is toe gekies vir die Blue Toro’s se o.13-span.”

JC se pa, Hennie, wat self provinsiale kleure in rugby gehad het, is in 2018 aan ’n hartaanval oorlede.

“Ek weet my pa sou vandag baie trots op my gewees het. My pa het losskakel gespeel en ek en my boetie, Dian, druk albei in die skrum. Dian is die vaskopstut van sy skool se o.11-span.”

JC en sy ma vertel hulle geniet dit om saam musiek te luister wanneer hulle in die pad val om in Pretoria te gaan oefen.

“Ek hou van hip-hop en popmusiek.”

Dan lag hy en bieg: “Ek is ’n groot Stormers-ondersteuner en my ma skree natuurlik vir die Blou Bulle.”

Nie net is JC vanjaar sy skool se hoofseun nie, maar hy is ook die gr.7’s se topakademiese presteerder. Hy was ook in sy skool se revue en in die spreekkoor.

Hoewel hy deur ’n groot skool in Pretoria genader is om aanstaande jaar sy hoërskoolloopbaan daar te begin, het JC besluit hy wil by Hoërskool Nylstroom inval.

“Ek geniet dit te veel om hier in die platteland te bly. My oupa-hulle woon in Modimolle; so ek gaan volgende jaar soontoe. Die platteland se mense is vriendelik en gasvry.”

Corné sê sy moet heelwat opdok om JC te help om sy rugbydroom te verwesenlik. Sy vra die gemeenskap om te help. Om in Oktober vir die Blue Toro’s uit te draf gsal haar ’n allermintige R9 500 uit die sak jaag.

Lesers wat JC wil bystaan, kan Corné bel by tel. 082 616 7484.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button