Local sport

Limpopo-karatekas ryg die medaljes in

Die medaljes wat die karatekas by die Limpopo provinsiale-kampioenskap en die JKA Nasionale toernooi/ Afrika-beker ontvang het, is ’n bewys van hul harde werk, toewyding en uitsonderlike opleiding waarvoor die JKA-karateklub in Mookgophong bekend is.

Die Limpopo-kampioenskap is onlangs in Polokwane gehou en die JKA-nasionale toernooi/ Afrika-beker in Johannesburg.

Sensei David Fitzcharles het aan Die Pos gesê Waldo Grobler het tydens die Limpopo-kampioenskap knap vaardigheid in die afdeling vir seuns o.12 gewys en goud ingepalm in die oranje-gordelafdeling in kata en kumite (gevegkuns). In die o.11 seuns-oranje-gordelafdeling het Stiaan Pretorius ook goud gewen.

Gabrielle Swanevelder het haar deursettingsvermoë in die Limpopo-kampioenskap getoon met ’n silwer medalje in kumite vir meisies o.8 geel-gordelafdeling en ’n brons medalje by die JKA-nasionale toernooi.

Waldo Grobler, Stiaan Pretorius, Gabby Swanevelder en Hannah Fitzcharles.

Nóg ’n blink ster van die JKA karate-familie, Hannah Fitzcharles, het brons- en silwermedaljes vir onderskeidelik kata en kumite by die JKA-toernooi gewen.

Sensei Laurette Reynders, sensei Michelle Swanevelder, asook sensei Fitzcharles het die voorreg gehad om by die JKA Nasionale-kampioenskap, asook die Afrika-beker wat saam beslis is, as beamptes te dien en kon só eerstehands die prestasies van hul studente vier.

Fitzcharles sê: “Sulke toekennings is nie bloot medaljes nie, dit is die hoogtepunt van ontelbare ure van streng opleiding, spesiale toewyding en ’n onwrikbare gees. Die medaljes vertel ’n verhaal van jong sportsterre wat gekies het om buite hul perke te beweeg, mentors wat hulle elke tree van die pad begelei het en ’n gemeenskap wat hul prestasies as hul eie vier.”

Vir ouers wat dissipline, selfvertroue en ’n gevoel van doelgerigtheid by hul kinders wil inboesem, of volwassenes wat self ’n transformerende reis wil aanpak, bied JKA Karate Naboomspruit meer aan as net lesse in karate. Dit bied ’n geleentheid om deel te wees van ’n geskiedenis van kampioene.

Belangstellendes kan Fitzcharles bel by tel. 076 272 7713.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button