Local sport

Hansie jaag voor om ovaalbaan

As die gedreun van motorenjins jou opgewonde maak en brandstof in jou are bruis, maak dit nie saak hoe oud jy is nie — jy gaan jaag.

Francois Olivier (17), gr. 11-leerder van Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong, het reeds van kleins af geweet dat hy eendag ’n renjaer wil wees en vandag kan hy spog dat hy sy eerste nasionale hotrods (hitsmotor)-wedren gewen het.

Die tweede been van die ‘National Qualifier’is op Sondag 29 Julie op die ovaalbaan van die Bosveld Wedrenklub buite Mokopane gehou. Die baan is 400 m lank en Francois se beste tyd was 16,3 s. Ses motors het in sy afdeling deelgeneem en drie rondtes gery waarvan elke rondte 12 keer om die baan is.

Hy het aan Die Pos gesê dat hy as seuntjie saam met sy pa na wedrenne in Mokopane gaan kyk het.

“Ek het toe al vir my pa gesê ek wil ook eendag so ’n kar hê en aan wedrenne deelneem,” het hy entoesiasties vertel.

Francois Olivier
(17) het op Saterdag 29 Julie die nasionale hotrod (hitsmotor)-wedren in sy afdeling gewen.

“Ek jaag tans in die beginnersklas, “Stockrods”, maar my droom is om eendag heel bo te eindig,” het hy vertel. Hy het verlede jaar begin deelneem aan die sport nadat hy sy eie kar gekoop het.

In hierdie afdeling mag daar slegs beperkte veranderinge aan die voertuig aangebring word en omdat hy nog minderjarig is, moet daar aan sekere vereistes voldoen word.

“Ek het spesiale, vuurvaste klere en ’n valhelm. Die stewels is versterk en is pasgemaak vir hierdie soort sport. Ek het my motor uit my eie sak gekoop met geld wat ek gemaak het deur vuurmaakhout te verkoop. Dit het my R35 000 uit die sak gejaag, wat eintlik min is in vergelyking met van die ander motors.. Die heel duurste motors kan tot R500 000 kos,” het hy vertel.

Francois het self hand bygesit om die motor in te rig volgens nasionale standaarde. Hy het op vriende van hom en sy pa staatgemaak om die kundigheid van hoë werkverrigting enjins te bring.

Die volgende ronde van die nasionale kampioenskap sal in Oktober in Upington gehou word.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button