Local sport

Skaakspelers maak die regte skuiwe

Die inwoners van die Waterberg sal eersdaags die geleentheid kry om aan skaaktoernooie in die omgewing deel te neem.

’n Vriendskaplike byeenkoms is op Saterdag 22 Julie by die NG Kerk Moedergemeente in Bela-Bela aangebied waar spanne en individuele spelers van Modimolle en Bela-Bela teen mekaar meegeding het.

Die kompetisie is gereël deur Sarie Smit, bekende skaakafrigter van Bela-Bela, en haar seun, Jurie, wat Protea-kleure in skaak verower het.

“Daar word deesdae redelik min skaak op skoolvlak gespeel. Ek het gedink die kompetisie sal ’n goeie beginpunt wees. My ma rig tans elke Maandag en Woensdag skaak vir beginners by Laerskool Nylstroom af waar ons fokus op gevorderde spelers,” vertel Jurie. Elke kompetisie bring ’n nuwe dimensie aan die spel en dit is nodig om spelers hieraan bloot te stel. Dit is goed dat leerders al van drie jaar af kan begin om hul vaardighede uit te brei, want dan is hulle reeds spelers van formaat wanneer hulle hoërskool toe gaan.”

Jurie het sy Protea-kleure verower toe hy in gr. 11 was en Suid-Afrika op internasionale vlak in Londen verteenwoordig het.

Willie Nelson van Modimolle was die algehele wenner van die naweek se groot skaaktoernooi in Bela-Bela. Langs hom staan Jurie en Sarie Smit, skaakafrigters en organiseerders van die toernooi.

Saterdag se kompetisie was baie suksesvol. Roelf Vorster, skoolhoof van Laerskool Nylstroom, het sy skool ondersteun en elke wedstryd wat hulle gespeel het bygewoon.

Die spelers van Laerskool Warmbad wat hul vernuf agter die skaakborde gewys het, is Maritz Grobler, DW du Plessis, Theomarie Joubert, MG Keyter, Lyall Humphreys, Rianco Jacobs, Renatus Groenewald, Ethan O’ Callaghan, Ruan en Conrad Nel.

Vir Modimolle het Willie Nelson, Ebert van der Merwe, Eddie Wagner, Yuvan Victor, Nico Van Hulst, Dennis Keyter, Joshua Becker, Stefan Bosman, Christiaan Laing en Aidin Van Hulst goeie skuiwe gemaak.

Unieke wisseltrofeë wat skaakstukke verteenwoordig, is aan die wenners oorhandig.

Theomarie Joubert van Bela-Bela het die wisseltrofee vir beste meisiesspeler verower. Saam met haar is Jurie en Sarie Smit, skaakafrigters.

Die beste o.8-speler was Conrad Nel, die beste opkomende speler was Nico van Hulst en die beste o.10-speler was MG Keyter.

Theomarie Joubert het die Warries se naam hoog gehou en is as die beste meisiesspeler aangewys.

Die algehele derde plek het gegaan aan Ebert van der Merwe (Nylie), Maritz Grobler (Warrie) was tweede en Willie Nelson van Laerskool Nylstroom eerste. Maritz en Willie het ook elk ’n handgemaakte skaakstel van hout gewen.

“Ons beoog om hierdie kwartaal na meer skole in Bela-Bela uit te reik en in die proses die kompetisie te vergroot,” vertel Jurie.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button