Local sport

Taildraggers-vliegskou was ’n groot sukses

Die Taildraggers Fly In vliegtuig-byeenkoms wat die afgelope naweek by die Bela-Bela vliegveld plaasgevind het, was ’n groot sukses.

Die Bela-Bela Valke-vliegklub was die gasheer wat die vliegveld al jare lank bestuur en in stand hou. Die vliegveld behoort aan die Bela-Bela-munisipaliteit.

Vlieëniers het tydens die geleentheid hul kennis getoon van aërodinamika en presiesheid in hul tuie toe hulle aan ’n spoedtydren (Taildraggers Speed Rally) deelgeneem het.

Altesame 21 van die 120 vliegtuie wat vanaf Vrydag daar geland het, het aan die kompetisie deelgeneem.

Dit was die tweede tydren-kompetisie waaraan vlieëniers van verskillende vliegklubs in die land tans deelneem. Die laaste twee kompetisies vind in Makhado en Groblersdal plaas.

Plaaslike toeskouers het op Saterdag 1 Julie die aksie aanskou en die vliegtuie van nader bewonder.

Vlieëniers het in spanne van twee elk van die aanloopbaan af opgestyg, ’n roete rondom die baan gevlieg en weer geland.

Die beoordelaars het deelnemers beoordeel op hul vernuf agter die stuur, die akkuraatheid van hul vliegpatroon en spoed.

David le Roux van PilotInsure sê die topdriespanne het hulself baie goed van hul taak gekwyt.

Die span wat die kompetisie gewen het, was Hendrik (vlieënier) en Jandré Loots (navigator) in hul Sling 2 ligte-vliegtuig.

Quintin Kruger en Johan Whiteman was tweede en Phil Wakely saam met sy navigator, Martin Meyer, was derde.

Besoekers en vlieëniers het Richard Nicholson en die span van die Valke Vliegklub bedank vir ’n ongelooflike byeenkoms.

Die volgende byeenkoms vind vanaf Saterdag 29 Julie by die Louis Trichardt Faolo Soutpansberg-byeenkoms plaas.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button