Local sport

Skaakstukke tuimel weer

Skaakspelers het weer die geleentheid gekry om die skaakstukke te laat tuimel toe die Naboom SPAR Jeugdag Ope-skaaktoernooi op Vrydag 16 Junie om 09:00 in Hoërskool Hans Strijdom se skoolsaal in Mookgophong plaasgevind het.

Die toernooi is aangebied volgens internasionale skaak reëls (FIDE) en die “Swiss Pairing”-formaat was van krag. Dit beteken die rondes se loting word bereken volgens die uitslag van die voorafgaande ronde. Die program het ses rondes van 30 min per spel toegelaat. Die program het seepglad verloop en teen 12:00 was die toernooi afgehandel. Die spelers het vir die eerste keer met die skaakhorlosie-toepassing op hul selfone gespeel.

Die kategorieë vir deelname word bereken volgens ouderdom. Die algehele wenner was Setso Selema van Hoërskool Nylstroom in Modimolle en die naaswenner was Kgothatso (Jerry) Modiba van Hoërskool Hans Strijdom. In die 2008-groep het Christo Lotterie van Hoërskool Hans Strijdom gewen en die groep van 2009-2012 se wenner was Mareus Storbeck van die CVO skool in Modimolle. Alexander Harmse van Laerskool Eugène N. Marais was die wenner van die 2016-groep.

Die jongste deelnemer was Alexander Harmse (7) van Laerskool Eugène N. Marais en die oudste deelnemer was Hennie Booysen (90) van Die Oog-aftreelandgoed in Mookgophong.

“Baie dankie aan Kobus Briel en sy onderneming wat spelers ondersteun het met inskrywingsgeld. Dankie ook aan Carlo Vorster wat die skoolsaal gereed gekry het vir die toernooi en die Hansies wat hul skoolsaal beskikbaar gestel het, het Gawie le Roux, organiseerder, aan Die Pos gesê.

Die volgende toernooi sal op Woensdag 9 Augustus (Vrouedag) gehou word. Hoërskool Hans Strijdom het goedgunstiglik weer hul skoolsaal beskikbaar gestel.

“Ons doen ’n spesiale beroep op ons vroue en meisies om saam te kom speel. Daar is spesiale pryse vir die vroue,” het Le Roux gesê.

Vir verdere inligting oor skaak in die Waterberg-distrik, stuur ’n Whattsapp-boodskap aan Gawie le Roux by tel. 071 688 4912.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button