Local sport

Warmbad-tennisklub soek spelers

Daar heers groot opwinding onder inwoners nadat dit op Donderdag 11 Mei aan die lig gekom het dat die Warmbad-tennisklub weer gaan herleef.

Die klub is jare gelede by Tennis Suid-Afrika (TSA) geregistreer en is volgens alle aanduiding steeds geregistreer. Die klub het egter getaan weens interne redes en omdat belangstelling afgeneem het.

’n Groep belangstellendes en bestaande lede van die ou tennisklub het Donderdag by Laerskool Warmbad byeengekom om nuwe lewe in die klub te blaas.

Tennisliefhebbers wil nou weer ’n liefde vir die spel by skoolleerders en volwassenes aanwakker. Die groep meen die jeug moet bewus gemaak word van die voordele wat tennis inhou.

Onderhandelings is aan die gang met skole in die omgewing wat beskikbare bane het. Daar is reeds begin om van die bestaande tennisbane by Hoërskool Warmbad op te gradeer en van die lede oefen reeds sekere dae van die week daar.

Die organiseerders hoop om weer genoeg spelers te hê sodat hulle aan ligawedstryde teen naburige dorpe kan deelneem.

Daar is nog nie ’n bestuurskomitee gekies nie, maar inwoners wat belang stel om by die tennisklub betrokke te raak, kan vir Tessa Roux WhatsApp-boodskappe stuur na tel. 082 497 8989.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button