Local sport

Karatekas mik nou al die pad Japan toe

Waterberg Karate Academy het die afgelope week bekendgemaak dat hulle ongelukkig nie meer in Augustus aan die JSKA-wêreldkampioenskap in Duitsland sal deelneem nie weens ’n gebrek aan fondse.

Nege van dié klub se karatekas het in Mei 2022 tydens die nasionale kampioenskap in Gauteng vir die wêreldkampioenskap gekwalifiseer. Sedertdien was die klub, onder leiding van sensei Nico von Stade, druk besig met fondsinsamelings en is hulle selfs as ’n nie-winsgewende maatskappy (NPC) geregistreer.

“Dit was ’n groot voorreg en kompliment dat JSKA die potensiaal in ons klein klub raakgesien het en ons het daarna ’n groot taak gehad, want befondsing raak alle sportsoorte,” sê Monique von Stade, skakelpersoon by die klub. “Ons het alles probeer — van sakkies pak vir donasies by winkels, blikskud by die verkeersligte, kosverkope en selfs ’n musiekskouspel gereël. Dit was net nie moontlik om die teiken te bereik in so ’n kort tyd nie.”

Die klubbestuur het eenparig besluit om eerder van die Duitsland-byeenkoms te onttrek en om te mik vir die 11de wêreldwye byeenkoms wat in 2025 in Japan plaasvind.

“Die klubbestuur het oorweeg om slegs ’n paar karatekas na Duitsland te stuur, maar ons het gevoel dat ons liefs die volledige span wat gekwalifiseer het die geleentheid moet gee. Dit is baie moeilik vir die meeste ouers wie se kinders goed is in sport en kwalifiseer vir oorsese geleenthede om die gevaar te loop van teleurstelling omdat daar nie genoeg geld ingesamel is nie.”

Sy sê wel die klub gaan nie moed opgee nie.

“Die NPC bestaan steeds en die geld sal help om ’n groep vir die komende nasionale kompetisie aan die einde van Mei in te skryf. Ons het ook aansoek gedoen deur die Suid-Afrikaanse nasionale inkomstediens (SARS) om te kan registreer as ’n openbare voordele maatskappy. Dit sal donateurs van belasting vrywaar en meer voordele inhou,” sê Von Stade. “Ons dink om in Japan te gaan deelneem, sal baie vir ons lede beteken omdat Japan die bakermat van karate is. Karatekas se blootstelling daarvoor sal baie voordele inhou.”

Die klub is ook baie opgewonde om ’n nuwe vegsportkuns, kobudo, vir die meer senior karatekas te leer. Kobudo is die kuns om met wapens te veg.

Die klub het oefensessies wat weekliks by die Abraham Kriel-kinderhuis in Modimolle aangebied word.

“Die voordele van karate is dat dit deelnemers leer om beter te konsentreer, meer selfvertroue gee en ook lesse in konflikhantering leer. Karatekas is gedissiplineerde mense in die samelewing.” “Ons het gelukkig twee jaar ekstra tyd om geld in te samel. Intussen sal ons karatekas aan plaaslike toernooie deelneem.”

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button