Local sport

Kamdeboo platgestap vir ’n goeie doel

’n Groep ywerige stappers van Modimolle, Mokopane en Pretoria het fluks in die Oos-Kaap die Kamdeboo-staproete gaan stap om geld in te samel vir die Abraham Kriel-kinderhuis.

Die groep van nege het op Maandagoggend 24 April douvoordag sowat 3 km buite Aberdeen weggespring en hul staptog van 101 km teen Vrydag 28 April voltooi.

Een van die stappers, Corné van Heerden, het aan Die Pos vertel sy en vier ander lidmate van die NG Hulp en Hoop Gemeenskapskerk in Mokopane, asook Morné Jooste, ’n bestuurslid van die Potgietersrus Dienssentrum vir Bejaardes, was deel van die groep.

“Mense kon ons borg of ’n donasie gee wat alles na Huis Boekenhout en Bauhinia, twee huise van die Abraham Kriel-kinderhuis in Modimolle, sal gaan.”

Corné vertel sy het in September verlede jaar begin oefen om fiks te word.

“Dit was ’n eerste vir my, maar beslis nie die laaste nie. Ons het almal soveel geleer oor die Karoo se pragtige landskap, die boere in die omgewing en ook oor die diere op die plase. Ek koester die stilte in die natuur en die goeie kameraadskap. Die mense se gasvryheid waar ons oornag het, sal my altyd bybly.”

Corné sê sy het ook baie van haar eie menswees geleer. “Jou voete is seer en niks berei jou voor op die stilte en rustigheid wat jy daar ervaar nie. Ons groep wil dankie sê aan almal wat ons ondersteun het deur donasies of boodskappe.“

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button