Local sport

Boompies se gimnaste skitter in Pretoria

Om ’n gimnas te wees, verg dissipline en baie harde werk.

Die gimnaste van die Naboomspruit-gimnastiekklub in Mookgophong het op Saterdag 1 April hul staal gewys tydens die Suid-Afrikaanse-trampolienkompetisie in die Rembrandt-saal by die Universiteit van Pretoria.

Landie van Wyk, eienaar en afrigter van die klub, was self van ses jarige ouderdom ’n gimnas en leef steeds haar passie uit.

“Ek is baie trots op elkeen van my gimnaste en veral omdat hulle vanjaar so goed afgeskop het tydens die SA Cup-trampolienkompetisie, wat ’n uitnodigingskompetisie was. Ons het altesame ses brons, vier silwer en sewe goue medaljes (kampioene in Suid-Afrika) verwerf,” het sy trots gesê.

Die klub se deure is al sedert 2017 oop en hulle bied trampolien en SA-Aerialnastix aan.

“Ons het tans sowat 60 gimnaste tussen die ouderdomme van drie tot 16 jaar oud en ons streef om die beste in elke gimnas te ontgin,” het sy aan Die Pos gesê.

Die klub se mededingende gimnaste neem al van vierjarige ouderdom aan trampolien en SA-Aerialnastix deel. Die hoogste vlakke is tans vlak 6 op Euro-trampolien en vlak 6 op dubbelminitrampolien.

Die gimnaste se volgende kompetisies is op Saterdag 13 Mei in Benoni wanneer hulle aan die SA-Aerialnastix deelneem en dan weer op Saterdag 20 Mei vir trampolien by die Universiteit van Pretoria.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button