Local sport

Boiki hardloop van Beitbrug na Bela-Bela

Bela-Bela se bekende langafstandatleet, Hendrik “Boiki” Monareng, het op Donderdag 20 April weer bewys dat deursettingsvermoë en voorbereiding in sy bloed is.

Monareng het oor vier dae die pad van Beitbrug na Bela-Bela — ’n afstand van 391 km — afgelê.

Hy het verlede Donderdagmiddag by die kliniek in die Bela-Bela-township sy hardloopskoene uitgetrek.

Monareng het langs die roete verskeie ondersteuners ontmoet, maar was baie verlig toe hy bekende gesigte langs die pad tussen Modimolle en Bela-Bela teëgekom het.

Hendrik Boiki Monareng (regs op die foto) het verlede week die afstand tussen Beitbrug en Bela-Bela voltooi. Hy berei voor vir sy groot droom: ’n Wedloop vanaf Kaïro tot in Suid-Afrika. Saam met hom is ’n ondersteuner wat hom op die roete aangemoedig het.

“Ek het op Maandag 17 April by die grens weggespring, maar dit het ’n ongelooflike warm dag geword. Die ondersteuners wat my vergesel het, het goed na my behoeftes omgesien, maar weens erge dehidrasie het ek maagprobleme ervaar,” vertel hy.

“Dit het gelukkig opgehou toe ek Polokwane nader. Ek het omtrent 150 km per dag gedraf en moes gereeld eet om my krag op te bou.”

Hy sê hoewel min mense hom met borgskappe ondersteun het, hoop hy steeds om eendag die afstand van Kaïro, Egipte, tot in Suid-Afrika af te lê.

“Ek hoop om dit in 2024 te doen. Elke projek wat ek tot nou aangepak het, was om geld vir dié wedloop in te samel, want dit sal baie duur wees. Ek hoop om van daardie geld aan voornemende studente te skenk.”

Monareng het in 2022 die afstand van Kaapstad na Bela-Bela afgelê wat sy langste wedloop ooit was.

Hy beoog om in Augustus van Durban na Bela-Bela met sy fiets te ry en om in November die afstand van Polokwane en terug aan te durf.

Monareng bedank almal wat hom ondersteun het.

Vir navrae oor sy toekomsplanne kan mense hom bel by tel. 076 181 2592.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button