Local sport

Hengelaars maak lyne nat

Hoewel die grotes weggekom het, het 24 hengelaars hulself onlangs gate uit geniet langs die walle van die Intaba Indle-dam buite Bela-Bela.

Die hengelaars en hul gesinne het deelgeneem aan ’n vriendskaplike kompetisie en daar is heerlik gekuier en in goeie gees visgevang.

“Die hengelaars se geduld is beproef om die grootste barber, karp of bas uit te trek. Die visse wou nie juis byt nie, maar almal het die dag só geniet dat ons binnekort ’n soortgelyke kompetisie wil aanbied,” sê Johan Roux, organiseerder.

Die deelnemers kon van die oewer af hengel of vanaf bote op die dam.

Paul en sy seun JP Smith bekyk hul vangs van die dag.

Die organiseerders was bekommerd oor die weer nadat daar Vrydag erge donderstorms en swaar reën oor die gebied uitgesak het, maar die weer was toe op Saterdag 1 April heerlik sonnig.

Die deelnemers was dit eens dit is lekker om ’n groot vis aan die hoek te hê, maar die samesyn en vriendskapsbande wat gesmee word, is die belangrikste. Die wenners van die onderskeie afdelings is huis toe met lekker koopbewyse, geskenke en wildsvleis.

Roux bedank die borge en deelnemers wat die dag die moeite werd gemaak het.

Gerda Mari de Budé en Jan Roodt van Bela-Bela span langs die dam uit. Roodt sê goeie herinneringe word saam met familie en vriende langs die visvangwater gemaak.
Frikkie van Heerden en Monteiro da Silva van Pretoria het hul katrolle laat sing. Albei sê hulle neem gereeld aan hengelkompetisies deel en sien altyd uit daarna om tyd in die natuur deur te bring.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button