Local sport

Rugbykoors loop hoog!

Die gewilde Hansie-rugbyweek in Mookgophong skop eersdaags af met 76 rugbyspanne van regoor die land wat in dié gewilde dorp kom kragte meet.

Die personeel en leer-ders van Hoërskool Hans Strijdom, ouers, beheerliggaamslede en sakeondernemings skarrel om die finale voorberei-ding te doen vir die duisende gaste wat tydens die Mauritz Hansen Rugbyweek, ook bekend as die Hansieweek, op die dorp toesak.

Die Hansieweek word vanjaar van Dinsdag 28 Maart tot Saterdag 1 April by die skool aangebied.

Altesame 76 deelnemende spanne van 25 skole uit vyf provinsies sal mekaar vanjaar die stryd aansê en rugby sal gewis weer koning kraai.

Mauritz Hansen, stigter van die Hansieweek.

“Soos in die verlede sal ons elke speler, afrigter, skeidsregter, ondersteuner en toeskouer met groot gasvryheid ontvang. Ons hoop om nuwe bande te bou en oues te hernu. Mag die optrede van elkeen getuig van goeie sportmangees en mag dit ook ’n getuienis van dankbaarheid teenoor die Here weerspieël,” het Rinus de Jager, hoof van die skool, gesê.

Die Hansieweek het sy ontstaan in 1992 gehad toe ’n groep ouers, onderwysers en lojale ondersteuners die HTS Middelburg-rugbyweek bygewoon en onder leiding van Mauritz Hansen besluit het om ’n eie rugbyweek te begin. Hansen was toe die skoolhoof van Hoërskool Hans Strijdom.

Die eerste Hansieweek, georganiseer deur Lofty Koorsen, is in 1993 aangebied. Slegs 16 spanne bestaande uit o.15- en eerstespanne het deelgeneem. Daarna het Dirk Oosthuizen, wat ’n onderwyser van Hoërskool Hans Strijdom was, saam met Herman van Niekerk, Noptru (die Naboomspruit Opvoedkundige Trust), Rudolph de Vos en Bobby McLeod, bemarker van die Hansies, die toernooi gereël.

Verskeie bekende Springbok-rugbyspelers het al as gassprekers opgetree waaronder die legendariese Thys Lourens en Frik du Preez. Ander bekendes wat al by die Hansieweek kom kuier het, was skeidsregter André Watson, Boet Fick (president van die Blou Bulle), Willem Boshoff (rugby-filantroop), Barry Honan (bekende Wallabies-senter), Uli Schmidt, John Williams, Kobus Wiese, Joost van der Westhuizen, Pieter Hendriks, Krynauw Otto, Adriaan Richter, Ian McDonald, Jannie de Beer, Divan Serfontein, Wynand Claasen, Jaco van der Westhuyzen en Arno Botha.

Rinus de Jager, skoolhoof van Hoërskool Hans Strijdom, saam met Nikolai Kruger, kaptein van die eersterugbyspan.

Deur die jare het hierdie skolerugbyweek gegroei tot ’n prestige-byeenkoms en die spanne neem op uitnodiging deel. Die afgelope 19 jaar is dit volgens die organiseerders een van die heel grootste skolerugbyweke ter wêreld.

Bekende Springbokke wat as leerders aan die Hansieweek deelgeneem het, sluit in Geo Cronjé (Hoërskool Lichtenburg), Jacques Cronjé (HTS John Vorster), Gary Botha
(Hoërskool Overkruin), Victor Matfield (Hoërskool Pietersburg) en Marcel Coetzee (Hoërskool Port Natal).

Die afgelope 28 jaar het honderde verskillende skoolspanne van dwarsoor Suid-Afrika en internasionale spanne van Australië en Namibië al tydens die Hansieweek kragte gemeet.

Die Mauritz Hansen-rugbyspan, wat jaarliks na afloop van die Hansieweek gekies word, het al na Ierland, Frankryk, Spanje, Monaco, Italië, Skotland, Engeland en Wallis gereis.

“Ons maak weer gereed vir ’n aksiebelaaide week gevul met die beste skolerugby op ons tuisvelde,” het Willie Louw, beheerliggaamvoorsitter, gesê.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button