Local sport

Kwaggas wys hul staal teen taai span van Marble Hall

Die Kwagga-rugbyspan van Bela-Bela het op Saterdag 18 Februarie hul eerste wedstryd van die rugbyseisoen met luide toejuiging teen Marble Hall-rugbyklub gewen.

Die Kwaggas se eerstespan het met 65-14 geseëvier en alle verwagtinge oortref. Hulle het hul vorige wedstryd teen die Oryx Valke verloor.

Die Kwaggas se tweedespan en die Loskop-rugbyklub se eerstespan het vroeër die middag kragte gemeet en die span van Loskop het met die louere weggestap met ’n telling van 38-0.

Spelers van Bela-Bela sou eerskomende Saterdag 25 Februarie teen die Noordelikes-rugbyklub uitgedraf het op Hoërskool Warmbad se velde, maar volgens Drummond Hammond, Kwagga-klubvoorsitter, het die Noorde op kort kennisgewing onttrek.

Die Kwagga-bestuur is reeds bekend vir hul innoverende planne om klubrugby en die dorp in die kollig te hou.

Dit het tydens onderhandelinge met Willem Strauss, hoofuitvoerende beampte van die Blou Bulle Rugby-unie (BBRU), aan die lig gekom dat klubrugby ook nou om ’n nuwe trofee — Die Willem Strauss-skild — sal meeding. Die trofee is geborg deur Strauss.

Hammond het laat deurskemer dat die Kwagga-rugbyklub eersdaags teen die gedugte Harlequins van Pretoria op die Warries se velde sal speel.

Die tyd en datum moet nog bepaal word.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button