Local sport

Karate ’n goeie teenvoeter vir boeliegedrag

Die woord “selfverdediging” duik telkens op wanneer daar oor boeliegedrag gepraat word.

“Talle ouers kla omdat hul kinders depressief, angstig of teruggetrokke is of geboelie word.”

Só sê sensei Nico von Stade van die Waterberg Karate Academy na aanleiding van ’n onlangse berig in Die Pos oor boeliegedrag.

Die Pos het verlede week berig oor ’n voorval waar ’n minderjarige seun deur twee ander seuns aangerand is in Modimolle. Die saak is intussen na die hof verwys.

’n Paar dae later is leerders van verskeie skole, waaronder Laerskool Warmbad, deur verteenwoordigers van die nasionale kinderbeskermingshulpyn (Child protection hotline) besoek om oor boeliegedrag te praat.

Die woord “selfverdediging” duik telkens op wanneer daar oor boeliegedrag gepraat word.

“Dit is juis waarom mense by ons aansluit. In baie gevalle was hulle die slagoffers van fisieke of verbale boelietaktiek. Seuns loop veral deur onder fisieke geweld terwyl meisies verbaal geboelie word,” het Von Stade gesê.

“Karate is ’n goeie teenvoeter vir boeliegedrag — vir die slagoffer én die boelie.”

Volgens hom is ’n boelie dikwels iemand wat nie tuis of by aktiwiteite waar hulle betrokke is, konsekwente dissipline ontvang nie. Respek vir ander, selfrespek en empatie is afwesig.

“Boelies het ’n swak selfbeeld. Hulle gebruik die gevoel van mag en beheer om hul selfbeeld te bevorder. Gesagsfigure in hul lewens is dikwels ook boelies en jong kinders volg hul voorbeeld. Groepsdruk kan ook bydra, want dit is belangrik om deel van die ‘cool’ kinders te wees.”

Gedragsprobleme wat hieruit ontstaan, sluit in impulsiwiteit en ’n gebrek aan selfbeheersing, wat bydra tot ’n boelie se uiting aan opgehoopte stres en aggressie, sê Von Stade.
Dit is volgens hom ironies dat boelies slagoffers kies wat ook ’n swak selfbeeld het.

“Karate bied nie net fisieke opleiding om jouself te verdedig wanneer jy met ’n boelie te doen het nie. Met herhalende versterking en aanprysing van die kind se selfbeeld bou ons ’n kind wat die boelie se radar ontglip.”

Hy meen boelies se gedrag kan verander deur hul selfbeeld te verbeter met positiewe aanprysing. Wanneer interaksie tussen karatekas plaasvind, bring dit respek vir ander, asook selfrespek.

“Die dissipline wat deur die instrukteur oorgedra word, versterk die idee oor wat aanvaarbare en nie-aanvaarbare gedrag is, want respek kweek empatie. In die meeste gevalle kan ’n opgeleide karateka konfrontasie vinnig ontlont.”

Von Stade sê voorts dit is elke instrukteur se doel dat hul leerders nooit die fisieke deel van hul opleiding hoef te gebruik nie.

“Ons kan egter ons kinders met die nodige kennis bemagtig om hulself te verdedig, want ons as ouers is nie 24 uur per dag daar om hulle by te staan nie.”

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button