Local sport

Kwaggas skop op ’n fikse noot af

’n Opwindende jaar wag op rugby-ondersteuners van die onderskeie dorpe in Die Pos se lesersgebied.

Die Kwagga-rugbyklub van Bela-Bela het op Maandag 9 Januarie met hul oefenprogram begin.

Die Kwaggas het die afgelope twee jaar by meer as een geleentheid met die Blou Bulle rugby-unie (BBRU) skouers geskuur en kundige hulp bekom om die gehalte van klubrugby te bevorder.

Die Kwaggas het in 2022 as naaswenners van die Waterberg-liga uitgetree nadat hulle teen die geharde Northam Rhino’s meegeding het.

Van die spelers is ook genooi om aan die Northam Platinum-reeks op Loftus Versveld-stadion in Pretoria mee te ding. Dit het aan die spelers ongelooflike goeie blootstelling gebied.

Vir die Kwagga-bestuur beteken verlede jaar se prestasies dat hul span besig is om te groei en met elke oefening verbeter.

Drummond Hammond, Kwagga-klub-president, het by navraag gesê die plan is om die spelers topfiks te kry en vriendskaplik teen ander klubs mee te ding om hul vaardighede te verbeter.

“Die liga-bepalings sal eers na afloop van die BBRU-vergadering in Februarie bekend gemaak word. Ons verneem dat dit tussen Februarie en Maart gefinaliseer sal word. Ons sal intussen vriendskaplike wedstryde skeduleer.”

Die Kwaggas oefen elke Maandag en Woensdag om 18:30.by Hoërskool Warmbad se A-veld.

Belangstellende spelers word vriendelik genooi om by die klub aan te sluit.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button