Local sport

Besoek skaatsplankbaan en word ‘King of the Park’

Diegene wat van skaatsplankry hou kan gerus deelneem aan die King of the Park-kompetisie wat by die nuwe Warmbad-skaatsplankbaan gehou word.

Bouwerk aan die baan het in Julie begin en is in Oktober voltooi.

Gavin van Greunen, stigterslid, sê daar is goeie belangstelling onder plaaslike mense wat wil leer hoe om te skaats en gesonde pret in die buitelug wil hê.

Van Greunen het saam met sy peetouers, Maggie en Kobus Swiegers, sy passie vir die sport op hul hoewe in die Roodepoort-omgewing voortgesit nadat hy vroeër in Port Edward ’n skaatsplankskool onder die Wolf Skateboarding-handelsmerk gestig het.

“Ons het op Maandag 5 Desember reeds met uitdunrondes onder belangstellendes begin. Die topdeelnemer sal einde Desember met die titel King of the Park gekroon word,” het hy gesê.

“Mense kan deelneem in skaatsplank- of rolskaats en moet ’n goeie toertjie kan doen om deur te dring na die volgende ronde. Die finale ronde sal op Vrydag 30 Desember plaasvind.”

Die algehele wenner sal wegstap met ’n groot prys,” het hy gesê.

“Daar sal tussen 6 en 7 Januarie ’n saamtrek gereël word waar die wenner sy of haar titel teen myself sal moet verdedig. Ek nooi dus alle skaatsplank-, rolskaats- en BMX-fietsryers om in te skryf en hul toertjies te oefen. Ná die groot kompetisie sal kleiner kompetisies vir die besoekers aangebied word.”

Alle geleenthede word afgeneem om later op sosiale media uit te saai indien die deelnemers toestemming daarvoor gee, het Van Greunen gesê.

Van Greuen het gesê dit neem sowat drien eenuurlesse per week totdat iemand op ’n bord met wiele kan balanseer en genoeg selfvertroue het om hul balans te behou. Daarna verg dit heelwat oefening om hulle voor te berei vir die sport.

“Ek moniteer en stel ’n verslag op oor elke deelnemer se vordering. ’n Akkurate verslag is ’n aanduiding van hoe die atleet vorder en watter aspekte meer aandag nodig het. Indien deelnemers nie oor die nodige toerusting beskik nie, kan hulle by my navraag doen.”

Vir enige navrae bel vir Van Greunen by tel. 064 544 7294 of Kobus by tel. 078 015 8592.

  • Die skaatsplankbaan is op die S-draai-pad in Swanepoelstraat, in die rigting van Roodepoort buite Bela-Bela.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button