Local sport

Nuwe veerpyltjieklub in Mookgophong

Daar is ’n splinternuwe veerpyltjieklub in Mookgophong gestig waar mans, vroue en kinders saam die sportsoort kan geniet.

Die Koöperasie-veerpyltjieklub wat by ’n bekende kuierplek in die dorp gestig is, het hul eerste ope-kompetisie gehou. Dié klub is by die Limpopo-streek geaffilieer.

“Dit was ’n heerlike dag en ons begin reeds beplan vir die volgende kompetisie in 2023,” het Johan Raath, organiseerder en klubvoorsitter, gesê.

Die spelers het van oral in Limpopo gekom om deel te neem en spanne van Makhado, Polokwane, Tzaneen, Modimolle en Mookgophong het hul vernuf met die pyle gewys. Die wenners in elke kategorie het ’n trofee ontvang. Wally Baker van die Modimolle-assosiasie het die pryse en trofeë oorhandig.

Die dag is gekenmerk deur goeie sportmangees en die spelers het dit baie geniet.

Volgens Raath is die belangstelling groot en hy glo die klub sal vinnig groei. Die klub het tans 20 lede waarvan heelparty vroue is. Die klub het Dinsdae sosiale aande vir oefening en Woensdae en Donderdae word daar liga-wedstryde gespeel.

Raath wil graag die sport uitbrei en skole betrek by die kompetisies. Leerders van 12 jaar en ouer kan deelneem. Daar is ook jaarliks ’n junior nasionale kompetisie. Internasionale deelname is ook moontlik aangesien die sportsoort baie gewild is in Suid-Afrika.

“Veerpyltjies is ’n sport wat baie oefening en akkuraatheid verg. Ons wil graag mense aanmoedig om aan te sluit en in die toekoms aan liga-byeenkomste deel te neem om in aanmerking te kom vir provinsiale proewe,” het Raath gesê.

Belangstellendes kan hom bel by tel. 074 738 1131

Die wenner van die manskategorie was Bonby Wills van Polokwane, die vroue-wenner is Karen Prinsloo van Makhado en die naaswenner was Hannelie de Beer van Modimolle.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button