Local sport

Boiki laat die speke sing van Kaap tot Bela-Bela

Daar was groot fanfare op Maandag 24 Oktober voor die ingang na die Superspar-kompleks in Bela-Bela waar ondersteuners in groot getalle saamgedrom het om die topatleet Hendrik “Boiki” Monareng terug te verwelkom.

Monareng het op Maandag 17 Oktober in Kaapstad met sy fiets weggespring vir die lang roete oor ’n totale afstand van 1 566 km terug na sy tuisdorp Bela-Bela — sy verste wedloop nog.

Hy het al verskeie korter afstande aangepak.

Monareng is bekend op die dorp vir sy passie vir sport en fiksheid. Die doel van sy tog was deel van ’n bewusmakingsveldtog vir geestesgesondheid en om geld in te samel vir sportontwikkeling.

Hy het daagliks foto’s van sy vordering vanaf Kaapstad op sosiale media gedeel. Vir die meeste van sy aanhangers was dit verstommend dat hy daagliks ongeveer 200 km kon aflê.

Voor Monareng se aankoms in Bela-Bela was dit asof die Kaapse stormweer op sy hakke was, maar dit het nie die groot klomp toeskouers afgesit toe hy uiteindelik sy fiets geparkeer het nie.
Bela-Bela se burgemeester, Gloria Seleka, het Monareng met die munisipaliteit se ere-ordetoekenning vir sy deursettingsvermoë en karakter beloon.

Monareng het geskerts dat hy sy eie geestestoestand tydens die wedloop op die proef gestel het. Hoewel hy meer as 1 000 km afgelê het, was sy algehele gemoed positief en was daar min tekens van uitputting.

“Ek het nie veel om te sê nie, behalwe dat ek baie dankbaar is dat ek dit kon doen. Miskien moet ek hoër mik en van Egipte na Suid-Afrika probeer ry. My raad aan ander is dat mense hul passie moet volg en nie moet huiwer om hul doel na te streef nie.”

Monareng is op sy roete bygestaan deur weldoeners van die Eazi Access-toerustingmaatskappy wat hom van akkommodasie voorsien het. Ander borge sluit in SuperSpar en die Sondela-natuurreservaat en Spa.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button