Local sport

Skaatsplankbaan byna reg vir aksie

Bela-Bela se jonges wat van ekstreme sportsoorte soos skaatsplankry hou, kan hulself regmaak vir ’n skaatsplankbaan waar hulle na hartelus kan baljaar.

Die baan word eersdaags in die Roodepoort-omgewing buite die dorp geopen. Ontwikkelaars Kobus en Maggie Swiegers is die afgelope paar maande saam met Kobus se aangenome seun, Gavin van Greunen, besig met die bouwerk van die skaatsplankbaan.

Die Pos het die perseel op Dinsdag 11 Oktober besoek waar ’n kleinskaalse skaatsplankbaan ná maande se werk uiteindelik voltooi is.

Hul visie is om ’n plek vir jongmense van die omgewing te begin wat veilig is en waar daar gesellig saamgekuier en ontspan kan word.

Van Greunen het vroeër in Port Edward ’n skaatsplankskool onder die Wolf Skateboarding-handelsmark gevestig. Dit bestaan steeds.

Die ontwikkeling in Bela-Bela het in Julie afgeskop.

Van Greunen het gesê hulle is in die proses om hul baan aan plaaslike skole te bemark. Hy is van plan om potensiële skaatsplankatlete deur die Wolf Skateboarding-handelsmerk op te lei en om hul vordering deur Youtube uit te saai vir blootstelling.

“Jongmense kan reeds kom kyk en die kleiner baan uittoets. Ons is besig om die parkeerarea, snoepwinkel en ander geriewe te voltooi.”

Verder beplan hulle om ’n hindernisbaan te bou en om in die toekoms jeugkampe op die terrein te hou.

Die ontwikkelaars sal streng optree teen besoekers wat hulself op die perseel wangedra, is uitdruklik gesê.

Vir navrae kan mense vir Van Greuen bel by tel. 064 544 7294 of Swiegers by tel. 078 015 8592.

Die perseel is op die S-draaie uit Swanepoelstraat in die rigting van Roodepoort.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button