Local sport

Atlete pak Ironman aan

Vier van Bela-Bela se langasematlete verdien elk ’n klop op die skouer nadat hulle verlede week aan die Isuzu Ironman 70.3 Driekampkampioenskap in Durban deelgeneem het.

Hierdie byeenkoms word wêreldwyd as een van die mees uitdagende atletiese kampioenskappe gereken.Vanjaar het 1 580 atlete ingeskryf, maar slegs 1 0000 het die eindstreep gehaal.

Die sweet het behoorlik getap en die warm temperature het ekstra druk op die deelnemers geplaas. Hulle moes aan die 1,9 km swem-item, die 90 km-fietswedren en 21,1 km-wedloop deelneem.

Bela-Bela-inwoners Steven de Villiers, Edna Grahan, Jacques Stein en Dirk Stevens se uithouvermoë is tot op die spits gedryf en al vier fikse atlete het die moordende kampioenskap suksesvol voltooi.

De Villiers het die Ironman binne 6:48:02 voltooi, Grahan binne 6:58:40 en Stein in 5:59:52. Stevens se tyd was 6:18:15.

Stein het ’n bietjie meer ervaring as die ander, want dit was die vierde keer dat hy sy vernuf getoon het. Die enigste teëspoed wat hy op die roete ervaar het, was ’n pap fietswiel sowat 2 km voor die fietswedren se eindstreep. Dit het hom egter nie gestuit nie en hy het sy fiets oor die wenstreep gedra.

Hy is reeds besig om voor te berei vir die volgende byeenkoms wat in Maart 2023 in Qeberha (Port Elizabeth) plaasvind.

Dit was die eerste keer dat Grahan aan die uitmergelende byeenkoms deelgeneem het. Sy het gesê sy was baie gelukkig om dit te kon voltooi en dat die “fiksheid-gogga” haar gebyt het. Sy sien daarna uit om voor te berei vir die volgende kompetisie.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button