Local sport

Ruben werk met seer spiere

’n Biokinetikus help nie net sportmense om te herstel van hul beserings nie, maar is ook daar om diegene met postuurprobleme of chroniese siektetoestande se lewe effe makliker te maak.

Ruben Veldsman het vanjaar sy kantoordeur by Hoërskool Warmbad oopgesluit. Hy het verlede jaar sy graad in biokinetika aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus verwerf.

Dié jong biokinetikus vertel hy het in die omgewing grootgeword.

“Ek hou van sport en dit is veral rugby wat van kleintyd my ná aan die hart lê. Ná gr.7 het ek my hoërskoolloopbaan aan Hoërskool Waterkloof in Pretoria begin waar ek as haker op die veld uitgedraf het. Ek het ook provinsiaal vir die Blou Bulle se o.16 en o.18 span gespeel.”

Ruben sê hy het eers getwyfel oor sy beroepkeuse ná matriek.

“In my eerstejaar het ons meer oor die liggaam se stelsel geleer en ek was nie seker of dit die regte rigting vir my is nie. Ons het meestal met bejaardes gewerk of mense met Alzheimersiekte; selfs diegene wat Downsindroom het of serebraalgestremd is.”

Volgens Ruben het hy in sy vierdejaar met ’n Downsindroom-pasiënt gewerk en besef watter ongelooflike genot die seun daaruit put as hy iets regkry wat hy vir hom leer.

“’n Mens neem so baie goed as vanselfsprekend aan en besef nie dit is ’n voorreg om nie ’n gebrek te hê nie. Ek het toe besef met dit wat ek doen kan ek vir iemand anders ’n kans gee om ’n bietjie beter te kan lewe.”

Ruben vertel hy hou daarvan om resultate te sien.

“Ek werk vir my pasiënte ’n oefenprogram uit en dan begin ons met rehabilitasie. Biokinetika beteken lewe deur beweging. Jy gebruik oefening om jou pasiënte te rehabiliteer.”

Hy is opgewonde oor sy praktyk by die hoërskool. In dié stadium werk hy met die sportleerders wat sukkel met beserings, mense wat beseer is in ongelukke of wat rehabilitasie nodig het ná operasies. Hy is dankbaar oor pasiënte wat die dokters na sy praktyk verwys.

“Ek fokus op die pyn en die probleem; dus moet ’n mens die ligaam en al die spiere ken.”

Benewens sy werk as biokinetikus, help Ruben ook sy pa wat ’n baksteenonderneming buite die dorp het. In sy vryetyd speel hy vir die Kwaggas rugby en geniet ’n potjie gholf.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button