Local sport

Spelers breëbors oor Blou Bul-embleem

Vir sewe spelers van die Kwagga-rugbyspan van Bela-Bela was dit ook ’n groot eer om op Saterdag, 3 September, op Loftus Versfeld se A-veld te kon speel.

Dit was ook die eerste keer in klubrugby se geskiedenis dat ’n groep amateurspelers met die Blou Bulle se embleem op hul rugbytruie in die Loftus Versfeld stadium kon uitdraf.

Die spelers het tydens die Northam Platinum Platteland Challenge hulle staal gewys. Die geleentheid is geborg deur die Northam Platinum mynmaatskappy en Paul Dunne, die maatskappy se hoofuitvoerende beampte.

In die weke vooraf is spelers vanuit verskillende klubs in die Waterberg-gebied die geleentheid gegun om vir die Limpopo Suidstreek-span uit te draf. Die Kwaggas het veral vroeër vanjaar hul staal tydens die Blou Bulle suidstreek-liga gewys en het in Junie in die finale teen Northam Rhino’s rugbyklub as die naaswenners uitgetree.

Die finale proewe was op Woensdag, 24 Augustus, by Hoërskool Warmbad gehou. Die voltallige span sou dan teen die topspelers van die noordelike provinsiale streek meeding. Sewe spelers van die Kwagga rugbyspan  — Charl du Plessis, Duncan Swart, Larrie Erasmus, Franco Smith, Christiaan Heuer, Arno Jooste en Andre Gower — het gekwalifiseer vir die Suidstreekspan.

Met nuwe dryfkrag het die Suidstreekspan dus die afgelope Saterdag hul beste spel gelewer en die Noordelikes met 49-41 geklop toe die eindfluitjie blaas.

“Hulle het uiters goed gespeel en geskiedenis gemaak. Dit was ook die eerste keer dat die Blou Bul maatskappy dit goedgedink het dat die Limpopo-spanne op Loftus se A-veld kon speel. Dit was letterlik die eerste wedstryd van sy soort,” het Drummond Hammond, Kwagga-klubvoorsitter, by gesê.

Hammond is veral opgewonde oor nog wedstryde wat vorentoe beplan word.

“Ons wag nou vir bevestiging. Die Kwaggas gaan ook die Warriefees van Hoërskool Warmbad met ‘n fondsinsameling ondersteun.”

Hammond spreek sy dank uit teenoor Willem Strauss, president van die BBRU, die BBRU-bestuur, afrigters, en die Kwagga klubbestuur vir hul harde werk.

Die Blou Bulle rugby-unie (BBRU) se huidige en toekomsplanne is om meer platvorms te skep vir amateurs om met die nodige ondersteuning, gekies te word vir provinsiale en professionele rugbyspanne.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button