Local sport

Oor die wenstreep…

Die Pos se gereelde bydrae tot sport in en om die Waterberg.

Die Waterberg Sakekamer het hul jaarlikse gholfdag op Vrydag 2 September by die Koro Creek-gholflandgoed in Modimolle gehou. Altesame 11 spanne van vier spelers elk het aan die toernooi deelgeneem en die span van Hoërskool Nylstroom het met die louere weggestap. Talle sakeondernemings het putjies geborg en daar is lootjies getrek, kleurvolle “shooters” uitgedeel, gevulde vetkoeke geniet en heerlike worsbroodjies gebraai. Die Sakekamer wil graag al die borge en deelnemers bedank vir hul getroue ondersteuning waarsonder die Sakekamer nie suksesvol sou wees nie. Hier ontvang Hoërskool Nylstroom se span, Francois Gunther, Adriaan du Plessis en Pieter Theron, die wisseltrofee van Gerhardt Breytenbach (voorsitter). Wollie Booysen was afwesig toe die foto geneem is.
Die meisieskrieketspan van Hoërskool Hans Strijdom het Northern Academy van Polokwane afgeransel. Cara Louw van die Hansies het onverbeterlike spel gelewer. Sy het sewe paaltjies geneem vir net 28 lopies. Cara het ook die besondere prestasie dat sy ’n driekuns behaal het.
Die eerste krieketspan (links) van Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong het die span van Mahwereleng onlangs oortuigend met ses paaltjies gewen. Die Hansies se beste bouler was Wian Marnewick wat slegs 28 lopies afgestaan het vir vyf paaltjies. Hannes Fourie het die langsteel ingelê en het 25 lopies nun geslaan.
Die leerders van Hoërskool Frikkie Meyer, Lieselotte Smit, Nelita Janse van Rensburg en Carla.Barnard, het in Augustus aan die ATKV Kunstefees se sangafdeling in Bela-Bela deelgeneem. Hulle het onderskeidelik A++, A+ en A-toekennings verwerf. Lieselotte is ook aangewys as die algehele wenner in die hoërskoolafdeling. Saam met hulle is Phillip Kotze, beoordelaar en sanger.
Hoërskool Frikkie Meyer is trots op hul boogskuts wat aan die begin van Augustus in Estonia, Europa, aan ’n internasionale boogskietkompetisie deelgeneem en binne die topvyf in hul onderskeie afdeling geëindig het. Skuts Shanel Furstenburg was vierde, Meagan Shamrock tweede en Maya Broekhuizen het eerste geëindig. Saam met hulle is Luzette Von Wiellig en Colin Campbell (skoolhoof).
Hoërskool Frikkie Meyer in Thabazimbi se nuwe spankapteine vir die huidige krieketseisoen is HJ Janse van Rensburg (eerste span) en HP van Heerden (o.15-span). Saam met hulle is onderwysers en spanafrigers Willem Steyn, Danie Fouché, Rudolph Fourie en Janco Meintjes.
’n Trotse Frikkiespan ná hul krieketsege. Hoërskool Frikkie Meyer in Thabazimbi se eerste krieketspan het einde Augustus hul krieketseisoen geopen met ’n wedstryd teen Hoërskool Hans Strijdom. Die Frikkies het 231 lopies met ’n verlies van nege paaltjies aangeteken en die Hansies 135 lopies wat slegs vier paaltjies afgestaan het.
Gimnaste van die Kruiskrag gimnastiekklub in Bela-Bela het einde Augustus aan die Limpopo kampioenskap in Thabazimbi deelgeneem. Die vlak 1-3 gimaste het gekwalifiseer vir die komende Sone-kompetisie, waar die vlak 4-gimnaste deurgedring het na die toekomstige SA Gym Games later vanjaar. Voor is Mia-Mari Barnard (brons) en Mioné Smith (brons). In die middelry is Kayla Berrangé (silwer), Lienke Strydom (brons), Zandri van Schalkwyk (goud), Sinzé Oosthuizen (silwer) en Silara van der Merwe (twee brons). Agter is Dival Nel (silwer), Frans Brits (brons), Dirk Brits (brons), Mia Strydom (silwer en algheel 3de), Henk Rhodes (brons), Johan Brits (brons) en Coenraad van Schalkwyk (brons).
Dié langasems van Laerskool Nylstroom is gekies om Limpopo te verteenwoordig by die Suid-Afrikaanse Landloopkampioenskap wat op Saterdag 17 September in Rustenburg gehou sal word. Voor is CB Barnard, Janro Barnard en Hans du Toit en agter is Kayla van der Merwe, Eugene Barnard en Ben van Jaarsveld.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button