Local sport

Jukskeispelers laat skeie spat

Jukskeispelers van regoor die provinsie het op Saterdag, 20 Augustus, hul skeie kom gooi in die jaarlikse Driespel-kampioenskap wat by die Tarentale Jukskeiklub in Mokopane gehou is.

Die Oog se span het in die B-afdeling hul vernuf gewys en aan die einde van die dag met ‘n eerste plek weggestap terwyl die Naboom 3-span in die C-afdeling koning gekraai het.

Die A-afdeling se wenners was die Blouspan van Pretoria. Altesaam 30 spanne met 90 spelers het deelgeneem.

Die Tarentale klub in Mokopane spog met 16 bane. Die klub wat vanjaar 83 jaar oud is, is in 1939 op die plaas Zandsloot van wyle oom Graaf Genis gestig. Die Genis-familie is vandag nog ywerige spelers wat die spel bevorder.

Die wenners van die B-afdeling van die Driespel-jukskeikampioenskap wat in Mokopane gehou is, was André Coetzee, Danie de Beer en Johan Kleingeld van Die Oog se jukskeispan. Saam met hulle is Fanus Genis tydens die prysuitdeling.

Jukskei mag dalk ‘n oeroue sportsoort wees, maar vandag is dit ‘n erkende professionele sportsoort en veel meer as twee ander Africana-speletjies, aspaai en kennetjie. Dit word bedryf deur Jukskei Suid-Afrika. Oud en jonk kan saamspeel en dit is ook ‘n ideale sportsoort vir families.

‘n Span bestaan uit vier spelers, gooi ‘n skei oor ‘n vasgestelde afstand na ‘n pen wat in ‘n sandput staangemaak is.

Die spelers kry ook geleentheid om reg deur die jaar in Kroonstad aan verskeie kampioenskappe deel te neem. Die bane daar is die mees sentrale punt waar die spelers nie net hul talent kan uitstal nie, maar ook sosiaal saam kan verkeer.

‘n Nasionale span word ook elke jaar gekies was onder meer in Namibië verskeie toetse daar gaan speel.

Die internasionale Jukskei Federasie bevorder die spel in verskeie lande. Dit word deesdae ook onder meer in die VSA, Kenia, Kameroen, Uganda en in Mauritius gespeel.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button