Local sport

Jong speler het gholf in sy bloed

Die jong gholfspeler, Philip Hobbs, ’n matriekleerder aan die Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong, speel kookwater gholf. Hy het vanjaar die Limpopo B-liga gholfkampioenskap gewen.

Philip het aan Die Pos gesê gholf is in sy bloed. Hoe meer hy speel, hoe groter word sy passie vir dié sportsoort.

Hy het in gr. 7 op 13-jarige ouderdom begin gholf speel. “Ek het begin speel en hard geoefen om aan die proewe vir ’n gholftoer deel te neem. Ek het die span gehaal en van toe af het die gogga my gebyt,” het hy aan Die Pos gesê.

Sy voorgee is tans 11. Tydens die Limpopo-kampioenskap op Maandag, 15 Augustus, by die Polokwane-gholfbaan, het hy 81 houe gespeel wat aan hom 41 punte besorg het. Hiermee het hy die eerste plek verower.

“Ek sal graag in die toekoms ‘n professionele gholfspeler wil word,” het hy entoesiasties vertel. Hy wil eers gaan studeer en dan ’n beroep van dié sport maak. “Gholf is ’n sport wat my kop skoon maak en dit leer jou om met goeie beginsels te speel. Eerlikheid en respek sal jou vêr bring in dié sport. Daar is ook nie ’n ouderdomsbeperking op gholf nie, jy kan dit jou lewe lank beoefen,” het hy gesê.

Tydens die toernooi was Philip se afrigter en ’n onderwyser by die Hansies, Naas Muller, ook die wenner van die personeel-liga. “Ek is baie trots op Philip en hou hom met groot verwagtinge vir die toekoms dop,” het Muller gesê.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button