Local sport

Bon voyage, William!

William Mabena, die blitsvinnige oud-Nylie wat tans een van die vinnigste naellopers in Suid-Afrika oor die 100 m en 200 m is, het veilig in Iowa, Amerika, aangeland.

Hy het vroeër vanjaar ’n uitstekende sportbeurs van die Universiteit van Iowa in Amerika ontvang wat onder meer sy studies, verblyf en sportafrigting insluit. Mabena beoog om ’n sportwetenskap en -afrigtingskursus te volg terwyl hy volstoom met sy naellope voortgaan.

Mabena is opgewonde oor die goeie tye wat hy vanjaar in die 200 m aangeteken het. Dit is net ’n breukdeel van ’n sekonde stadiger as sy persoonlike beste tyd van 20,8 sekondes. Sy doelwit is om teen vroeg aanstaande jaar die 200 m onder 20 sekondes af te lê.

As deel van sy beursooreenkoms moes hy self die geld insamel om sy visum van R6 000, asook sy vliegkaartjie van ongeveer R20 000, te bekom sodat hy teen middel Augustus by die universiteit kan aanmeld vir die begin van hul akademiese jaar.

Hy het hom tot sosiale media gewend om die geld in te samel en was verbaas oor die reaksie wat vanuit alle oorde gekom het. Die grootste bydraes is gemaak deur oud-Nylstromers Marietjie en Jan Sypkens, hul seun, Jacques, wat in Brittanje woon en hul seun, Tokkie, wat in Australië woon. Die Sypkens-gesin het jare lank in Modimolle gewoon en al drie hul kinders is oud-Nylies.

Marietjie het aan Die Pos vertel die Here het dit werklik op haar hart gelê om hierdie jong man te help om sy atletiekdrome te bewaarheid.

Nog ’n groot bydrae het van Armand Seegers, ook ’n oud-Nylie wat tans in Dubai woon, gekom. Ander donasies is ontvang van Desirée van der Walt (DA-kiesafdelinghoof en lid van die parlement Limpopo), Rufus Mahoro (wyksraadslid) en Amerintia Human (Modimolle Tiger Wheel & Tyre).

Mabena se visumaansoek is kort voor sy 23ste verjaardag op Donderdag 14 Julie goedgekeur. Daarna het hy alles ingesit om te verseker daar is genoeg geld vir sy vliegkaartjie. Daar was ’n paar benoude oomblikke toe beskikbare vliegkaartjies onverwags baie skaars en bykans R10 000 duurder was, maar met behulp van ’n uitstekende reisagent is die kaartjie bespreek sodat hy op Woensdagaand 10 Augustus kon vertrek.

Mabena se familie het hom met swaar harte by die OR Tambo-lughawe in Gauteng afgesien, maar ondersteun hom om sy atletiekdroom te bewaarheid. Sy ouers het aan Die Pos gesê hulle is ontsettend trots op hom en vertrou dat hy die Modimolle-gemeenskap sal trots maak.

Hy het kort ná sy vertrek ’n boodskap op sosiale media geplaas waarin hy sy maats aanspoor om nooit hul drome te laat vaar nie. “Werk deurgaans met volharding, toewyding en selfdissipline — dan sal jy sukses behaal. Wees dankbaar vir alles wat jy ontvang en vir almal wat jou langs die pad help. Die lewe het baie uitdagings, maar moenie die leuens glo wat jou laat twyfel in jouself nie,” het hy gesê.

* Die hoogtepunt van Mabena se junior atletiekloopbaan was in 2018 toe hy tydens die junior Suid-Afrikaanse-kampioenskap ’n goue medalje in die 100 m vir seuns o.19 en ’n silwer medalje in die 200 m vir seuns o.19 gewen het. Die blitsvinnige 10,2 sekondes in die 100 m en 20,8 sekondes in die 200 m is tot dusver sy persoonlike beste tye.

Dit het die weg gebaan vir sy toetrede tot die senior Suid-Afrikaanse-kampioenskap in 2019 waar hy die 200 m-naellope gewen het. Ongelukkig het die grendeltyd in 2020 ’n stokkie voor sy atletiekdrome gesteek en moes hy vir eers terugkeer na sy ouerhuis in Modimolle.

Daar het ’n fratsongeluk in Februarie 2021, waarin hy sy enkel beseer het, amper sy professionele sportloopbaan beëindig. Die operasie wat hy in Mei 2021 ondergaan het, was ’n sukses en hy kon mettertyd weer met sy oefenprogram begin.

Belangstellendes wat hom graag wil ondersteun, kan hom op sy Facebook-blad volg by: William Mabena (Asante Sana).

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button