Local sport

Oor die wenstreep…

Die Pos se gereelde bydrae tot sport in en om die Waterberg.

Hoërskool Warmbad se eerste rugbyspan het op Saterdag 6 Augustus hulself goed van hul taak gekwyt in die kwarteindronde van die Noordvaal-toernooi. Die Warries het op hul tuisveld teen Hoërskool Bekker gespeel en met 22-17 as wenners uit die stryd getree. Op die foto is die span uitgelate ná afloop van die wedstryd. Foto: Wandi Botes
Laerskool Koedoeskop is baie trots op twee van hul leerders, Frans Kalp en Gabriella Nel, wat in Junie tydens die uitdunrondes gekwalifiseer het om aan die nasionale Artistatue-redenaarskompetisie deel te neem. Hulle sal aan die begin van September by Midstream College in Centurion hul beste voetjie voorsit.
Gimnaste van die Kruiskrag-gimnastiekklub in Bela-Bela het sedert Vrydag 22 Julie aan ’n vriendskaplike gimnastiekkompetisie in Lephalale deelgeneem en hul staal teen die ander klubs gewys. Op die foto is Christi Paul (brons) en Mia-Mari Barnard (brons). In die tweede ry is Kayla Berrange (silwer), Ané Snyman (brons), Emily Grobler (brons), Sinzé Oosthuizen (silwer) en Alexie Grobler (brons). In die derde ry is Coenraad van Schalkwyk (goud), Lienke Strydom (brons), Henk Rhodes (goud), Zandri van Schalkwyk (goud) en Divan Nel (goud). Heel agter is Mia Strydom (goud). Marko van Rooyen (silwer), Reghard van Rooyen (brons), Lienke Jansen van Nieuwehuizen (brons) en Mioné Smith (brons) was afwesig met die neem van die foto.
Tiané Thienpont (11) het behoorlik stof in haar teenstaanders se oë geskop tydens die 424 Offroad MX Series se wedren op Saterdag 30 Julie by Varkfontein buite Bapsfontein. Uit die groep van 25 veldmotorfietsjaers in die 65cc afdeling was daar net twee meisies wat deelgeneem het. Hierdie afdeling is oop vir seuns o.12 en meisies o.13 wat teen mekaar meeding. Op die foto sit Tiané se babaniggie, Mianique Janse van Rensburg (18 maande), gereed om oor 10 jaar by haar niggie oor te neem. Tiané is ’n leerder van Laerskool Nylstroom en het in 2021 aan MX-kompetisies begin deelneem. Haar broer, Matthias (13), het ’n derde plek in die 85cc-afdeling behaal.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button