Local sportSport

In die kol!

Willem van Biljon (31), een van die Waterberg se kolskootskuts, is verkies as deel van die span van 21 skuts wat Suid-Afrika in die wêreldkampioenskap vir akkurate langafstandteikenskiet sal verteenwoordig.

Deelnemers van 26 lande sal aan die kampioenskap, wat vanaf 6-12 Augustus by die millitêre basis in Bitche, Frankryk, gehou word, meeding.

Van Biljon het aan Die Pos vertel hy was op skool ’n kranige skut (skyfskiet), maar het eers vyf jaar gelede sy eie vuurwapen aangeskaf. Hy en ’n vriend het in 2018 saam begin oefen om aan akkurate langafstandteikenskietkompetisies deel te neem. “Daar is niks wat vergelyk met hierdie adrenalienbelaaide sport nie. Elke kompetisie bied ander uitdagings wat jou vaardighede toets.

Dit is ’n geveg teen tyd, want die 8-12 skote per ronde moet binne 90-120 sekondes afgevuur word,” het hy gesê.

Kompetisierondes word saamgestel met staalteikens (gongs) wat op afstande tussen 300-1 200 m geplaas word en vanuit verskeie onkonvensionele posisies getref moet word. Elke ronde moet binne 90-120 sekondes voltooi word waarin 8-12 skote afgevuur word. Deelnemers voltooi gemiddeld 6-10 rondes per dag wat bydra tot hul puntetelling vir die kompetisie.

Akkurate langafstandteikenskiet is ’n relatief nuwe sport vanuit Amerika wat die afgelope ses jaar in Suid-Afrika beoefen word. Dit word sedert 2015 deur die Suid-Afrikaanse Practical Precision Rifle Federation (SAPPRF) vanuit Gauteng bestuur. Hulle is ook lid van die internasionale federasie en die Suid-Afrikaanse Shooting Sports Confederation (SASSCo).

Deelnemers ding mee in verskillende afdelings soos ’n ope-klas, beperkte kaliberklas en fabrieksklas (waar geen veranderings of verbeterings aan wapens gemaak mag word nie). Daar is ook ’n aparte afdeling vir vroue en senior mans.

Van Biljon is tans bo-aan SAPPRF se puntebord in die beperkte kaliber-afdeling. Hy gebruik ’n Howa .308-kaliber vuurwapen met ’n spesiale kolf en ’n Vortex Razor Gen 2-teleskoop en laai ook sy eie ammunisie.

Van Biljon het op ’n plaas in die Vrystaat grootgeword en woon sedert 2006 in Modimolle waar hy aan Hoërskool Nylstroom gematrikuleer het. Hy is in 2017 met Leandri getroud en hulle het in 2021 ’n pragtige babadogtertjie, Lea-nell, ryker geword. Leandri sou graag wou saamgaan Frankryk toe, maar moet ongelukkig tuis bly om na hul dogtertjie om te sien.

Belangstellendes wat meer inligting wil bekom, kan gerus die SAPPRF webwerf www.precisionrifle.co.za besoek.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button