Local sportSport

Duiwe skrik nie vir die koue weer

Die lede van die Sonskyn-duiweklub in Bela-Bela het die afgelope drie naweke hul duiwe oor ver afstande laat meeding.

Die geveerde atlete het die pad huis toe gevat vanaf Bloemhof, Brandfort en Klerksdorp.

Daar is tans sowat 120 duiwe uit 11 klublede se hokke wat mekaar die stryd aansê.

Pierre Niemand, Danie Meyer en Van Reenen Cloete was na afloop van die Klerksdorp-kompetisie (343 km) die topduiweboere in die ope-afdeling.

Hul duiwe is onderskeidelik tussen 11:05 en 11:31 geklok.

In die jongduiwe-afdeling het Niemand se duif die beste tyd behaal en die wedvlug in 11:04:49 voltooi.

Die Brandfort-wedvlug (458 km) was vir die duiweboere ’n harde wedvlug. Die lede sê hoewel dit ’n strawwe wedren was, is hulle dankbaar dat al hul duiwe veilig terug in hul onderskeie hokke is. Dit was weer Niemand, Meyer en Cloete se duiwe wat die beste tye behaal het.

Hulle topduiwe het onderskeidelik in die jongduif-afdeling die wedvlug in 14:38, 15:29 en 15:17 voltooi.

In die ope-afdeling het klublid Frank Ferreira se duif saam met Niemand en Meyer in die toptien ingekom. Ferreira se topduif het die afstand binne 15:09 voltooi.

Die klublede het die afgelope naweek die langpad na Bloemhof in Noordwes gevat. Die totale afstand vir dié wedvlug was 526 km.

Dié duiwe het tydens die lang vlug sterk wind gehad en dit het die tye beïnvloed.

Die toptienduiweboere ná die Bloemhof-wedren in die jongduif-afdeling was Niemand, Paul Bester, Fanie Louwrens, Meyer en Cloete.

Hoewel Niemand se duiwe weer in die ope-afdeling uitgestaan het met ’n tyd van 14:02, was dit vir die klub ’n mylpaal toe een van hul jongste lede, PJ Bester, sewe plekke onder die top 40 duiwe beklee het.

Die klub sal die naweek van 15 Julie van Glen buite Bloemfontein deelneem aan ’n wedvlug wat oor 480 km strek.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button