Local sportSport

Ontwikkelaars wil pretplek vir jonges skep

Bela-Bela spog dalk eersdaags met ’n skaatsplankbaan waar jeugdiges aksie en pret kan hê terwyl hulle dié gewilde sportsoort beoefen.

“Ons glo dat die jeug van hul opgehoopte energie ontslae moet raak. Juis daarom wil ons ’n stuk van ons grond in die Roodepoort-omgewing ontwikkel en ’n veilige hawe skep vir die jongmense om te baljaar,” het Gavin van Greunen, stigter van die Wolf Skateboarding Crew, aan Die Pos gesê.

Van Greunen, asook sy peetouers, Kobus en Maggie Swiegers, beoog om ’n skaatsplankbaan op hul eiendom te bou. Van Greunen het reeds ’n soortgelyke projek, onder dieselfde handelsmerk, in Port Edward gevestig.

“Die aanvanklike idee was om kinders uit die strate te hou sodat hul hulself met iets konstruktiefs kan besig hou. Amateurs is in Port Edward as instrukteurs opgelei en die jongmense se vordering word deur middel van YouTube, Twitter en Twitch uitgesaai. Dit gee aan hulle blootstelling en motiveer hulle om te verbeter. Ouers kan ook op enige stadium inskakel en die kinders moniteer,” het Van Greunen gesê.

“Ons beoog om nie by die skaatsplankbaan te stop nie. Ons wil ook ’n hindernisbaan en ontspanningsgeriewe bou. Ons sal ook daar die nodige veiligheidsmaatreëls en kamerastelsel aanbring sodat ouers kan weet waarmee hul kinders besig is,” het Van Greunen gesê.

Daar sal ook ’n snoepie opgerig word. Die jongmense sal voorts na hul voorkeurmusiek kan luister terwyl hulle die aktiwiteite beoefen.

Ons sal reg op toegang voorbehou en die verkoop van dwelms en drank sal nie toegelaat word nie. Die personeellede sal ook onderneem om nie by dwelms betrokke te wees nie. Ons wil ’n heilsame omgewing vir die jeug skep.

“Die Covid-19-pandemie het almal negatief beïnvloed en ons wil graag weer die balans vir jongmense herstel.”

Die groep is tans besig om die nodige permitte by die Bela-Bela-munisipaliteit te verkry. Hulle beoog om tussen Julie en September te begin met die bouwerk.

Mense wat navrae oor die beoogde projek het, kan vir Van Greunen bel by tel. 064 544 7294 of vir Swiegers by tel. 078 015 8592 of tel. 076 548 7262.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button