Local sportSport

Hansies se jaarlikse voëljag ’n groot sukses

Die afgelope twee jaar se Covid-19-pandemie het die jaarlikse voëljag van Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong gekortwiek, maar vanjaar is dit met groot sukses op Vrydag 24 Junie en Saterdag 25 Junie aangebied.

Dit was vanjaar die 21ste jag wat aangebied is deur die skool en ewe gepas was daar ook 21 spanne wat ingeskryf het vir die kompetisie.

“Ons is baie dankbaar vir die opkoms en die geld wat ingesamel is. Elke onderwyser en leerder het bygedra om dit so suksesvol te maak,” het Rinus de Jager, hoof van die Hansies, gesê.

Die fisante en tarentale is op 23 verskillende plase gejag en die 18 gidse het ’n groot bydrae gelewer tot die sukses van die dag.

“Hoewel die weer nie lekker saamgespeel het met die snerpende koue en reën wat uitgesak het nie, het die jagters steeds baie voëls gekry,” het Lebu van Heerden, organiseerder, gesê.

Van die jagters het hulle goedopgeleide voëljaghonde saamgebring wat die tarentale en fisante uitgesnuffel en opgejaag het. Die kleiduifskietkompetisie wat die Vrydagmiddag plaasgevind het, was ook ’n groot sukses en was dubbeld soveel as die hoogste inkomste wat in die verlede behaal is. Van die jagters het die voëls wat gejag is saamgeneem en die res is aan Solidariteit Helpende Hand se HelpJag-projek geskenk wat dit weer aan behoeftiges gee. HelpJag versprei wildsvleis na 89 skole regoor die land en voed daarmee ongeveer 8 000 kleuters.

Lebu van Heerden, organiseerder van Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong se jaarlikse se voëljag-fondsinsameling, saam met Jandré Pienaar en Jandré Louw, wenners van die kleiduifskietkompetisie.

Ontbyt is die Saterdagoggend om 06:00 in die skool se lapa bedien en elke jagter en gids is lande toe met ’n koelhouer en ’n heerlike kospakkie. Jagters is die Vrydagaand getrakteer met ’n heerlike vleisbraai en die Saterdagaand was daar skape en ’n vark met smaaklike bykosse op die spyskaart.

’n Veiling wat die fondse verder versterk het en die prysuitdeling is na afloop van die smulete gehou.

Die pryse het vanjaar gegaan vir die swaarste tarentaal (1,6 kg), die swaarste fisant (0,85 kg), die grootste tarentaalkam (64,49 mm), die grootste fisantspoor (28,89 mm), die swaarste sak duiwe (12,95 kg) en die beste kleiduifskut (10 uit 10).

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button