Local sportSport

Oor die wenstreep…

Die Pos se gereelde bydrae tot sport in en om die Waterberg.

Hoërskool Nylstroom se eerste hokkiespan het op Saterdag 11 Junie die liga vir mediumgrootte skole gewen. Hulle het Hoërskool Warmbad se span met 4-0 tydens hul wedstryd in Polokwane geklop. Die o.15- en o.16-spanne was derde in hul liga en die o.14-span was vierde. Voor op die foto is Lorinda Broodryk, in die middel is Minette, Madia en Mizaan van Jaarsveld en Tiana Jacobs. Agter staan Liliana en Danielle Goncalves, Gabby Pereira, Khomotso Selema, Jean Jacobson (kaptein), Christine le Roux (afrigter), Lindi Loots (onderkaptein), Lee-Ann van Deventer, Anika Swart en Elné Joubert.
Hierdie hokkiespelers van Hoërskool Warmbad se eerstespan kan trots wees op ’n baie suksesvolle ligaseisoen. Hulle het op Saterdag 11 Junie teen Hoërskool Nylstroom in die finale ronde van die mediumskole-afdeling op Hoërskool Pietersburg se velde gespeel en moes daar die knie buig. Die Warries het op Saterdag 4 Junie vir Northam Academy en Curro Heuwelkruin geklop. Die Warries het die seisoen altesame 52 doele aangeteken. Op die foto is die span en hul afriger, Van Reenen Cloete.
Hoërskool Warmbad se o.14-hokkiespan het op Vrydag 10 Junie in Polokwane teen Hoërskool Frans du Toit van Phalaborwa kragte gemeet in die Limpopo-finaal. Die eerste doel is baie vroeg in die wedstryd deur Karla Smith aangeteken. Die spanne het gelykop gespeel en ekstra tyd is toegestaan. Die Warries het die ekstra tyd goed benut en het as die Limpopo-kampioene vir mediumskole uitgetree. Die skool is baie trots op dié spelers se harde werk en deursettingsvermoë.
Die Warries se eerste rugbyspan het die afgelope naweek in die finale ronde vir mediumskole in Polokwane koning gekraai teen Hoërskool Eric Louw. Die Warries het reeds in die eerste helfte skoonskip gemaak en Eric Louw se spelers was teen halftyd onder druk met die telling op 17-12. Die finale telling was 32-17 in die guns van Warmbad.
Three learners from Waterberg Academy outside Vaalwater, achieved great success at the North Gauteng Zone Festival’s rhythmic gymnastics competition on Saturday 11 June. Olivia Heuser (Level 1) and Elizabeth Pretorius (Level 1) both received silver medals while Josie Leigh Dent (Level 3) received a well deserved gold medal. The Limpopo provincial competition was held on Saturday 21 May in Polokwane and these three gymnasts were selected for the Limpopo team.
Karatekas van Waterberg Karate Academy is in die wolke nadat hulle gekies is om in 2023 aan die 10de Japan Shotokan Karate-assosiasie (JSKA) se wêreldkampioenskap in Duitsland deel te neem. Uit die 85 karatekas wat landwyd gekies is, is 19 van die Waterberg Karate Academy. Op die foto is Liam Sheasby en JP Blignaut. In die middel is Aiyden du Toit, Niqe Prins, Chelinke du Toit, Lizamarie Erwee, Andreas Enslin en Lohan Prins. Agter staan Vivian Sheasby, Hernu Nortjé, MJ van Blerk, sensei Nico von Stade, Michael Carr, sensei Charneé von Stade en DW du Plessis. Brandon Bloemhof, Melissa Bloemhof, Reghardt van Rooyen en Marko van Rooyen was afwesig met die neem van die foto.
Hoërskool Frikkie Meyer in Thabazimbi se rugbyspanne het hulself op Saterdag 4 Junie as topsportmanne bewys nadat hulle teen Hoërskool Tom Naudé in Thabazimbi meegeding het. Die Frikkies se o.14 A- en B-spanne het Tom Naudé onderskeidelik met 15-10 en 60-5 gewen. Die o.15 A-span het met 29-12 gewen. Die tweedespan het ná ’n harde wedstryd met 7-3 gewen. Die Frikkies se eerstespan het alle verwagtinge oortref toe hulle Tom Naudé met 72-0 geklop het. Op die foto is die eerstespan ná hul sege.
Meer as 700 atlete van regoor Limpopo het op Saterdag 11 Junie by Hoërskool Nylstroom vir die derde landloopligabyeenkoms van die seisoen aangetree. Ludwig Mamobolo, ’n voormalige Comrades-kampioen, was een van die topklasatlete wat deelgeneem het. Die gasheerklub was Fitness For All. Die volgende ligabyeenkoms vind in Groblersdal plaas. Op die foto laat waai die atlete nadat die skoot geklap het.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button