Local sportSport

Bela-Bela en Northam pak mekaar

Die afgelope naweek se semifinale-uitdunne van die Blou Bulle Rugby-unie (BBRU) se suidstreek-liga het vir meer as genoeg naelbyt-oomblikke gesorg.

Die Northam Rhino’s en die Mogol-rugbyklub van Lephalale het op Vrydag 3 Junie op Northam se veld kragte gemeet. Die ander semifinale ronde is op dieselfde dag in Groblersdal tussen die Kwagga-rugbyklub van Bela-Bela en Loskop-rugbyklub van Groblersdal beslis.

Die Kwaggas was op hul hoede, want die span het vroeër in die kompetisie teen die Loskop-span vasgeval.

Om die Kwaggas te motiveer het oud-Springbok-rugbyspeler, Bakkies Botha, en oud-Protea-krieketspeler, AB de Villiers, vooraf video’s van ondersteuning op Facebook geplaas. Ander ondersteuners het die twee bekendes gevolg en ook boodskappe van ondersteuning aan die Kwaggas gestuur.

Die wedstryd was hard en die Loskop-span het met aanvallende spel halftyd met 10-3 voorgeloop. Die Kwaggas het ná rustyd begeesterd uit die kleedkamers gekom en sommer gou die telling 10 elk gemaak. Loskop se span het bykans teen die einde van die wedstryd nóg drie punte danksy ’n strafskop by hul totaal gevoeg. Die Kwaggas het nie gaan lê nie en verbete aangeval. Daar is kort voor die blaas van die eindfluitjie ook ’n strafskop aan hulle toegeken wat die telling 13 elk gemaak het. Volgens ligabepalings word 20 minute speeltyd bygevoeg wanneer spanne gelykop eindig.

Die ekstra tyd was al wat die Kwaggas nodig gehad het om met 18-13 te wen.

Drummond Hammond, klubvoorsitter, het skertsend gesê dié naelbytwedstryd het hom oud gemaak, maar dat die oorwinning daarvoor opgemaak het.

Hammond het gesê dit sal die eerste keer in 10 jaar wees dat ’n Bela-Bela-span in die finale ronde van dié liga speel.

  • Die Rhino’s se wedstryd teen Mogol het vir groot vermaak vir die tuis-ondersteuners gesorg. Die Rhino’s het oortuigend met 50-13 gewen.

“Dit was ’n baie lekker wedstryd en nie so moeilik as wat ons verwag het nie,” het Flip de Kock, voorsitter van die Rhino-rugbyklub, by navraag gesê.

Die Rhino’s se eerste-, tweede- en derdespanne speel tans in die Carlton-liga.

“Die Kwaggas behoort ’n gedugte teenstander in die finaal te wees. Hulle het baie sterk spelers en is gemotiveerd om te wen. Dit sal ’n stryd om balbesit wees en die span wat hul teenstanders kan uitoorlê, sal uiteindelik seëvier.”

Die Kwaggas speel op Vrydag 10 Junie om 20:00 by die Northam-rugbyklub teen die Rhino’s.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button